Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Tatjana: Ek wou Suid-Afrika net hoop gee

Tatjana Schoenmaker hoop sy het Suid-Afrika sommer ’n klomp hoop gegee toe sy Dinsdagoggend Olimpiese silwer in die 100 m-borsslag gewen het, en gewys het waartoe die land se mense in staat is.

w
Kyk wat het ek! Tatjana Schoenmaker se glimlag haak by haar ore vas nadat sy Dinsdagoggend ’n silwermedalje ontvang het as beloning vir haar uitmuntende peil in die 100?m-borsslag. Foto: Getty Images

“Ons gaan deur ’n moeilike tyd en as ek net ’n klein bietjie hoop kon skep vir mense dat ons groot dinge kan doen as Suid-Afrika, dan het ek vermag wat ek wou,” het die 24-jarige Pretorianer ’n paar minute ná haar sukses gesê.

“Ons weet sport kan ’n land verenig – ons het dit (in Suid-Afrika) gesien met die Wêreldbekerrugby. Hopelik sal die Olimpiese Spele dieselfde doen.”

Schoenmaker is Dinsdag deur die 17-jarige Lydia Jacoby verslaan, die eerste vroulike Olimpiër nóg van Alaska. 

Jacoby het die eindronde in ’n tyd van 1 minuut en 4.95 sekondes gewen nadat sy oor die laaste kwart by Schoenmaker verby gestorm het.

Die Suid-Afrikaner het die silwer in ’n tyd van 1:05.22 gewen, terwyl die wêreldrekordhouer en 2016-kampioen, Lilly King, in 1:05.54 brons gevat het.

Een van die aandoenlikste oomblikke wat hierdie Spele sal oplewer, het hom daarna afgespeel toe Schoenmaker Jacoby met ’n breë glimlag op haar gesig omhels het. As daar selfs net ’n sweempie van teleurstelling in haar hart was, het sy dit heeltemal weggesteek.

“Kyk, ons is natuurlik mededingend in die swembad, maar daarbuite kan ons vriende wees en gaaf met mekaar wees,” het Schoenmaker gesê oor die gemoedelikheid waarmee die drie medaljewenners hul kompetisie afgesluit het.

“Wat in die swembad gebeur, bly in die swembad. Natuurlik fokus ons almal daarop om so goed te vaar as wat ons kan, maar dis lekker om te weet ons ondersteun mekaar, maak nie saak wat nie.”

In die breër konteks van Suid-Afrikaanse swem is Schoenmaker se sukses ’n welkome verwikkeling. Die land het in 2016 geen vroulike swemmers na die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro gestuur nie, maar het in Schoenmaker nou iemand wat nog hope medaljes kan laat inrol.

Sy sal juis reeds Donderdag aantree vir die 200-borsslag, waarin sy die afgelope twee jaar vinniger as enigiemand anders was en wat sy as haar beter nommer bestempel.

Nadat sy Dinsdag die eerste Suid-Afrikaanse vrou in 21 jaar geword het wat ’n medalje in die swembad kon verower (sedert Penny Heyns in 2000), het sy ’n kans om die land se eerste vroulike Olimpiese swemkampioen sedert Heyns in 1996 te word.

Heyns was ook ’n borsslag-swemmer.

Meer oor:  Swem  |  Olimpiese Spele  |  Tatjana Schoenmaker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.