Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Seer stembande en leë traankliere
Tatjana Schoenmaker pronk trots met die Olimpiese goue medalje wat sy Vrydag in Tokio verower het. Foto: Gallo Images

Nou gaan die water omtrent spat in die Tuks-swembad!

So het Ruan Ras, Tatjana Schoenmaker se kêrel en mede-Tuks-swemmer, Vrydagoggend laggend gesê in reaksie op die wêreldrekord en Olimpiese goue medalje waarmee Schoenmaker Suid-Afrika ’n nuwe huppel in die stap gegee het.

Ras was natuurlik wakker om te sien hoe Schoenmaker Vrydagoggend kort voor 04:00 (SA tyd) Suid-Afrika se eerste goue medalje van die Olimpiese Spele in Tokio wen, deur ’n wêreldrekord van 2 minute en 18.95 sekondes in die 200 m-borsslag op te stel.

Dié tyd is 16 honderdstes van ’n sekonde beter as die vorige wêreldrekord, en was byna ’n sekonde vinniger as die 2:19.92 waarmee die Amerikaner Lilly King tweede geëindig het.

“Jis, my stem is gaar en my traankliere is leeg,” het Ras Vrydagoggend laggend gesê.

René en Renske Schoenmaker saam met hul jongste dogter, Fabienne, en haar kêrel, Jock Travis, wys die T-hemde waarin hulle Tatjana die afgelope week ondersteun het. Foto: Verskaf

“Ons het om eerlik te wees al voor die Spele geweet sy het ’n vertoning soos hierdie in haar, maar dis mos maar nie iets wat jy hardop sê nie. En selfs al het ons dit gesien kom, was dit steeds ’n groot skok toe dit ’n werklikheid word.

“Nou gaan dit vanmiddag chaos wees by Tuks se swembad. Ons almal gaan op ons heel hardste swem, want wat sy gedoen het, is ’n groot aansporing. Sy het mense hiermee geïnspireer en harte aangeraak. Natuurlik is daar nou agt- en negejariges wat dadelik sal wil begin swem, maar dit is vir ons wat in ons 20’s is en reeds swem net so ’n groot motiveerder.”

Ras sê hy is natuurlik in die wolke oor die groot hoogtes wat Schoenmaker in Tokio bereik het met ’n Olimpiese rekord en silwer in die 100-borsslag wat ’n gróót week afgeskop het.

“Ons het voor die Spele gepraat oor wat ons dink sy daar kan bereik, en soos ek sê, ons het gedink dit sal goed gaan, maar my grootste wens vir haar was net dat sy vreugde in haar hart moes hê oor hoe dit afgeloop het,” sê Ras.

“Toe sy (Dinsdagoggend) silwer in die 100 m wen, was al wat ek gesien het hoe sy gestraal het en hoe oorweldig sy was deur wat gebeur het. Daarna was ek oor niks bekommerd nie – ek het geweet sy sou gelukkig terugkom huis toe. Om te dink God het haar daarna met iets nóg beter geseën, is ongelooflik. Dis vir my oorweldigend, so ek kan net dink hoe dit vir haar is.”

Ras, ’n veelsydige swemmer wat Schoenmaker al vir agt jaar ken en sedert verlede jaar haar kêrel is, sê die feit dat sy ná verlede jaar se Covid-19-inperkings beter as ooit was, is danksy haar uitkyk op die lewe.

Tatjana Schoenmaker en haar kêrel, Ruan Ras. Foto: Twitter

Ons oefen al lank saam en sy het nog altyd geweier om toe te laat dat moeilike omstandighede haar onderkry. Sy het aangehou hard werk deur die inperking en nou sien ons die resultaat daarvan,” sê hy.

In Roodepoort het René Schoenmaker, Schoenmaker se pa, self Vrydag ’n seer stem gehad – maar ’n baie, baie trotse hart.

“Ons het geweet dis net ’n kwessie van tyd voordat sy iets so groot soos dit vermag,” het René oor haar goue rekord-vertoning gesê. “Dis waarvoor sy geoefen het en dis vir dae soos dit wat sy selfs toe die swembaddens verlede jaar vir ’n paar weke toe was, steeds ‘op land’ so hard gewerk het as wat sy kon.

“Haar uitkyk was dat almal deur ’n moeilike tyd gaan en dit geen verskoning was nie. Sy was nog nooit een vir verskonings nie.”

René sê soos Dinsdag ná haar silwermedalje was hy veral trots op die grasie en mooi hart wat sy in haar triomf gewys het. Dit was haar oomblik, ja, maar sy het steeds seker gemaak almal weet hoe trots sy was op die vyfde plek wat haar oefenmaat Kaylene Corbett twee bane weg van haar behaal het en hoe hard sy moes werk om die Amerikaner Lilly King onder te kry.

“Jy weet, soms moet mense groot prestasies behaal voordat mense sien hoe groot hul harte ook is. Dit moet eintlik andersom wees, maar darem kon almal nou sien hoe ’n wonderlike persoon Tatjana is, terwyl sy wys hoe ’n goeie swemmer sy is.”

René, wat in Nederland gebore is en in 1989 na Suid-Afrika geëmigreer het, sê hy en sy vrou, Renske, het destyds voor hul oudste dogter se geboorte ’n boek met babaname van ’n vriend gekry en die naam Tatjana daarin gevind.

“Dit het geen betekenis nie, dit was net vir ons ’n mooi en spesiale naam. En kyk net, so spesiaal soos haar naam is, so spesiaal is sy.”

René en Renske Schoenmaker saam met hul jongste dogter, Fabienne, en haar kêrel, Jock Travis, wys die T-hemde waarin hulle Tatjana die afgelope week ondersteun het. Foto: Verskaf
Meer oor:  Swem  |  Olimpiese Spele  |  Tatjana Schoenmaker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.