Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Silwer om haar nek, goud in haar hart
Kyk wat het ek reggekry! Tatjana Schoenmaker straal van vreugde nadat sy Dinsdagoggend Olimpiese silwer in die 100 m-borsslag gewen het. Sy is die eerste Suid-Afrikaanse vroueswemmer wat ’n Olimpiese medalje wen sedert Penny Heyns in 2000. Foto: Anton Geyser/Saspa

Toe Tatjana Schoenmaker Dinsdagoggend kort voor halfvyf (SA tyd) Olimpiese silwer in die 100 m-borsslag losswem, het pandemonium in haar ouerhuis in Roodepoort losgebars.

Pa René, ma Renske en kleinsus Fabienne het soos kinders op ’n suikerdieet voor die televisie rondgebons, mekaar om die hals geval en uit hul mae gelag.

“Ons kon dalk selfs ’n bietjie gehuil het,” sê René van die oomblikke nadat sy dogter een van haar heel grootste drome bewaarheid het.

Byna twee dekades ná hul dogter se eerste swemles en ná ’n anderhalwe dekade waarin hulle haar aangemoedig het terwyl sy hoër en hoër in wêreldswem geklim het, kon die Schoenmakers Dinsdag saam met haar baai in haar grootste oomblik – al was dit dan ook van meer as 13 000 km ver af.

Maar die afstand tussen hulle kon nie wegvreet aan die vreugde en trots wat in hul hart oor hul dogter en suster geblom het nie. En nie net oor die spoed en gemak waarmee sy haarself deur die water gelanseer het nie – ook oor haar reaksie nadat sy tweede geëindig het.

Die Tatjana-fênklub . . . Tatjana Schoenmaker se ouers, Renske en René, wys saam met hul jongste dogter, Fabienne, en haar kêrel, Jock Travis, vir wie hulle die hardste by vanjaar se Olimpiese Spele skree.

Schoenmaker is die eindronde as gunsteling binne nadat sy die uitdunne en halfeindronde as die vinnigste swemmer afgesluit het (en reeds in haar eerste resies ’n nuwe Olimpiese en Afrika-rekord opgestel het), maar is oor die laaste paar meter van die eindronde deur die 17-jarige Amerikaner Lydia Jacoby verbygesteek.

Eerder as om te wonder wat kon gewees het, was Schoenmaker se eerste impuls om haar hande na die Alaska-tiener uit te steek en haar met ’n stywe druk geluk te wens. Op foto’s wat vanuit die Olimpiese swemstadion om die wêreld gestuur is, straal die Suid-Afrikaner van vreugde vir Jacoby.

Kom ons vier jou oomblik! Tatjana Schoenmaker steek Dinsdag haar hand uit na die Amerikaanse tiener Lydia Jacoby, kort nadat sy die Suid-Afrikaner om goud in die 100 m-borsslag geklop het. Foto: Anton Geyser/Saspa
Schoenmaker se glimlag haak ná haar eindronde aan haar ore vas. Foto: Anton Geyser/Saspa
’n Omhelsing oor ’n oggend van glorie. Foto: Anton Geyser/Saspa
Schoenmaker kyk trots na Jacoby. Foto: Anton Geyser/Saspa

“Ja, dit was fantasties om te sien,” sê René daaroor. “Maar dit is nou maar eenmaal wie Tatjana is en nog altyd was. Sy het haar voete plat op die aarde en maak nie saak of sy eerste, tweede, derde of hoeveelste was nie, sy sou almal anders ’n drukkie gaan gee het. Haar hele lewe al is sy iemand wat meer gepla is oor haar medemens as oor haarself, in alles wat sy doen.”

Haar pa sê ook sy sal tevrede wees met daardie silwermedalje omdat sy weet sy het haar alles gegee.

Ons is verskriklik trots op haar, dis iets waarvoor sy 15 jaar lank gewerk het.

“En sy het regtig – ons het haar sien werk hiervoor en saam met haar gehoop en gedroom. Sy is iemand wat glo alles gebeur met ’n rede en wat vrede in haar hart het daaroor.”

Die Schoenmakers moes natuurlik vir twee oggende in ’n ry baie vroeg uit die vere wees om te sien wat hul swemster in Tokio verrig en daar wag later vandeesweek nog twee vroeë oggende, wanneer sy in die 200 m-borsslag swem.

Dis egter ’n klein opoffering vir “Team Tatjana”, soos die gesin hulself noem op die T-hemde wat hulle spesiaal vir haar Tokio-avontuur laat druk het.

Fabienne wys die agterkant van die Tatjana-T-hemp.

René sê hy het in elk geval nie Maandag veel geslaap nie.

“Ek het in die bed gaan klim, maar ek was seker elke halfuur wakker. Ek was so bang ek mis haar eindronde,” sê hy.

“Ons is verskriklik trots op haar, dis iets waarvoor sy 15 jaar lank gewerk het. En as jy dink sy’t so goed gevaar in die 100, wat nie haar sterkste item is nie, kan ’n mens baie opgewonde raak oor haar 200. Ek het ’n goeie gevoel daaroor.”

Ná die aanvanklike rondhoppery en ’n vinnige geselsie met hul dogter, is die Schoenmakers wel Dinsdagoggend vinnig en hard terug na die werklikheid geruk. Hulle was tydens ons gesprek reeds op pad City Deep toe, waar René, Renske en Fabienne almal vir dieselfde maatskappy werk.

“Om die waarheid te sê, is ons klaar laat,” het René gesê. “Maar dis nou maar een van daardie dinge. Ons het darem ’n goeie verskoning.”

Spele-program

Spele-uitslae

Spele-medaljelys

Meer oor:  Swem  |  Olimpiese Spele  |  Tatjana Schoenmaker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.