Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Temple-Jones waarsku Blitsbokke

’n Voormalige lid van die Blitsbokke se afrigtingspan, wat goed met die Ierse sewesrugbyspan vertroud is, waarsku Suid-Afrika kan hom maar vetsmeer vir ’n vuurwarm verwelkoming by die Olimpiese Spele.

Die Blitsbokke vandeesweek op die oefenveld in Kagoshima. Van links is Kurt-Lee Arendse, Impi Visser, Ruhan Nel en Stedman Gans. Foto: Gallo Images

Vir meer as ’n dekade was Allan Temple-Jones die Blitsbokke se kondisioneringsafrigter, waarna hy in 2017 in ’n soortgelyke pos by die Iere se sewesprogram aangestel is. Hy het eerstehandse ervaring en was deel van sewesrugby in Ierland wat die laaste jare met rasse skrede vooruitgegaan het.

Die Blitsbokke begin hul aanslag om die goue medalje by die Spele Maandag teen Ierland in Tokio.

“Suid-Afrika sal ’n hoogs gemotiveerde en goed afgerigte span teëkom. Vir die laaste vier of vyf jaar was dit die span se mikpunt om aan die Spele deel te neem,” sê Temple-Jones.

“Suid-Afrika is saam met spanne soos Nieu-Seeland en Fidji een van die gunstelinge om te wen. Ierland gaan beslis probeer om die Blitsbokke te teiken. Die Suid-Afrikaners sal op hul beste moet wees en hulle kan hulle maar vir ’n fisieke stryd regmaak. Die Ierse spelers het goeie vaardighede en sal die wedstryd na die Blitsbokke neem.”

Anders as die Blitsbokke wat een van die gunstelinge is om die goue medalje by die Spele te wen en reeds drie seisoene die algehele wenner van Wêreldrugby se sewesreeks was, het Ierland ’n meer beskeie paadjie gestap.

Allan Temple-Jones is deesdae deel van die Haaie se afrigtingspan nadat hy tevore by die Blitsbokke en Ierse sewesspan betrokke was. Foto: Gallo Images

Dié span kon die eerste keer vir die 2019-’20-seisoen daarin slaag om as ’n kernspan aan die wêreldreeks deel te neem. Boonop moes die Iere nog in Junie aan ’n kwalifiserende toernooi in Monaco deelneem in ’n poging om vir die Spele te kwalifiseer.

Tog glo Temple-Jones, wat in 2016 ’n lid van die Blitsbok-afrigtingspan by die Spele in Rio de Janeiro was, dit alles kan in Ierland se guns tel.

“Hulle het die bykomende voordeel gehad dat hulle aan die kwalifiserende toernooi in Monaco deelgeneem het, so hulle het goeie wedstrydtyd gekry. Ek ken die (Ierse) spelers nogal goed. Dit is ’n wonderlike groep ouens wat bereid is om vir mekaar te werk,” sê Temple-Jones.

“Dan het jy ouens met die X-faktor soos Terry Kennedy en Jordan Conroy, dit is spelers wat ongelooflike vaart het. Hulle het ’n paar bedreigings, maar ek weet ook Neil (Powell, afrigter van die Blitsbokke) het hulle fyn dopgehou.”

Temple-Jones, wat hom vanjaar by die Haaie se afrigtingspan in Durban aangesluit het, verwag dat Ierland baie fisiek sal wees en gaan probeer om die Blitsbokke by die afbreekpunte te teiken.

Kan Ierland die Blitsbokke verras?

“As die Iere hul besit oppas en akkuraat by die afbreekpunte is, sal hulle ’n groot bedreiging vir Suid-Afrika inhou,” sê Temple-Jones.

“As jy geld moet verwed, sal dit op Suid-Afrika wees omdat die span meer ervare is. Maar die ervaring van Monaco sal die Iere hoogs mededingend maak.”

• Blitsbokke se bepalings vir Maandag (SA tyd): 03:58: t. Ierland, 11:58: t. Kenia (albei op SS Rugby).

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Suid-Afrika  |  Ierland  |  Blitsbokke
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.