Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Trane rol oor Chad gaan vlag dra
Chad le Clos vroeër vanjaar in aksie by die Suid-Afrikaanse swemkampioenskap. Hy het groot ideale vir die Olimpiese Spele, al het hy nog nie vanjaar groot golwe gemaak nie. Foto: Gallo Images

Toe Chad le Clos vroeër vandeesweek huis toe bel om vir sy familie te vertel hy is gekies om die Suid-Afrikaanse vlag Vrydag in die openingseremonie van die Olimpiese Spele te dra, kon sy pa, Bert, nie sy trane keer nie.

Bert was die uitbundigste man in die skare toe sy seun nege jaar gelede in Londen Olimpiese goud gewen het, en in die pawiljoen vir elk van die drie silwers wat hy sedertdien losgeswem het. Maar dit was nie omdat hy dié keer op sy televisie by die huis moet kyk wat sy seun in Tokio doen nie. Dit was trots, sê sy seun.

“Dit is so ’n groot eer om die vlagdraer te wees, en ek kan nie beskryf hoeveel dit vir my familie beteken nie,” het Le Clos Donderdag gesê. “Toe my pa uitvind ek gaan die vlag dra, het hy letterlik in trane uitgebars.

Dit gaan ’n groot oomblik wees om uit te stap en my land so te verteenwoordig. Dis amper soos wanneer (die Springbok-kaptein) Siya Kolisi uitstap, dis hoe dit vir my voel.
Chad le Clos

“Dit gaan ’n groot oomblik wees om uit te stap en my land so te verteenwoordig. Dis amper soos wanneer (die Springbok-kaptein) Siya Kolisi uitstap, dis hoe dit vir my voel – ’n soort kapteinsrol. Dis iets waarvan ek altyd gedroom het en dit maak my nederig om te dink ek gaan nou al hierdie verskillende sportsoorte verteenwoordig.

“Ons kry by hierdie Spele die kans om vir Suid-Afrika te wys ons kan teenspoed oorkom en suksesvol wees. Die Spele verteenwoordig die hardnekkigheid wat ons as Suid-Afrikaners het. Dit was ’n moeilike jaar, of 18 maande, en onlangs was daar ook moeilike tye, so ek hoop mense by die huis kyk hoe ons deelneem en dat ons hulle kan trots maak.”

Le Clos sal vanjaar in minder items as gewoonlik deelneem, met net die 100- en 200-vlinderslag op sy skedule. Hy is laag op die wêreldranglys in albei, en word net op reputasie bestempel as iemand om dop te hou. Le Clos besef dit – maar hy sê hy glo in sy hart daar is nog Olimpiese goud in hom.

Caeleb Dressel (Getty)

“Ek is op papier ’n enorme buiteperd, in albei items. Twee jong outjies (Caeleb Dressel in die 100 en Kristof Milak in die 200) het Michael Phelps se wêreldrekords gebreek, en dit beteken vir mense ek het geen kans nie. Maar in my hart glo ek, altyd, ek kan struikelblokke oorkom, maak nie saak wat die omstandighede nie. Deursettingsvermoë en hardnekkigheid gaan die sleutel wees, en om die geraas uit te blok.

“Ek het my planne tot dusver vanjaar dig gehou, maar hopelik kan ek nou goed vaar met wat ek het. Ek kan nie ’n goue medalje belowe nie – ek kan geen medaljes belowe nie – maar ek kan belowe dat ek tot die einde sal veg om suksesvol te wees vir my land, my span, my familie en almal wat my ondersteun. Ek sal uitgaan sonder vrees en al die moontlike doen om te wen.”

• Elke nasie het vanjaar twee vlagdraers, een manlik en een vroulik. Suid-Afrika se ander vlagdraer in Vrydag se vlagparade is Phumelela Mbande, die doelwagter van die vrouehokkiespan, wat op 28 haar eerste Olimpiese Spele sal meemaak.

• Openingseremonie op TV: Vrydag 13:00 (SS 201, 209, SABC 2; volg Netwerk24 se regstreekse blog).

Meer oor:  Chad Le Clos  |  Bert Le Clos  |  Suid-Afrika  |  Tokio  |  Japan  |  Trots  |  Vlagdraer  |  Openingseremonie  |  Swem  |  Olimpiese Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.