Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Trans-beampte wil nie kollig by dogter steel
Kimberly Daniels is ’n transgender Olimpiese beampte. Foto: Reuters

Kimberly Daniels is by die Tokio-Spele as ’n beoordelaar vir die kanovaart-slalom, ’n nuwe Olimpiese nommer waarin haar dogter, Haley, Kanada verteenwoordig.

Maar Daniels is bekommerd sy kan die kollig by haar dogter steel weens al die aandag wat sy trek as ’n openlike transgender Olimpiese beampte.

“Ek reken ek is vandag ’n pionier hier. Ek het regtig gehoop ek sou hier aankom en sonder enige ophef my take verrig,” sê Daniels by die Kasai-kanovaartbaan in Tokio.

“My doelwit was nog altyd om as ’n vrou beskou te word, nou moet ek myself as ’n transgender vrou beskou en dit is ook ’n groot stap.”

Daniels, ’n kanovaart-beoordelaar in Rio in 2016, het nie beplan om haar geslagsverandering te voltooi tot ná die Tokio-Spele nie. Die feit dat die sportskouspel weens die Covid-19-pandemie met ’n jaar uitgestel is, beteken egter sy het in Tokio as ’n vrou aangekom.

Daniels sê sy het gemengde gevoelens oor transgender vroue wat in vrouesport meeding. Foto: Reuters

Die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) het geen beperkings op transgender beoordelaars of transgender mansatlete nie. Die IOK het in 2015 nuwe riglyne deurgevoer wat transgender atlete toelaat om as vroue deel te neem, mits hul testosteroonvlakke minstens 12 maande voor ’n kompetisie deurlopend onder 10 nanomol per liter is.

Die Nieu-Seelandse gewigopteller Laurel Hubbard is in Tokio amptelik die eerste transgender atleet wat aan die Spele meeding. Hubbard is as Gavin gebore en het tot op 35-jarige ouderdom as ’n man geleef. Sy het voor haar

geslagsverandering in 2013 in die mansafdeling meegeding.

Verskeie wetenskaplikes kritiseer die nuwe riglyne en meen dit doen min om die biologiese voordeel te demp van diegene wat deur manlike puberteit is, veral wat been- en spierdigtheid betref.

Voorstanders vir transgender inklusiwiteit voer aan die proses van geslagsverandering verminder die voordeel noemenswaardig en dat die fisieke verskille tussen atlete beteken daar is nooit werklik ’n gelyke speelveld nie.

Daniels sê haar dogter baklei nog die grootste deel van haar roeiloopbaan vir geslagsgelykheid. Foto: Reuters

Daniels, wat die beroemde transgender Olimpiese gouemedaljewenner Caitlyn Jenner as ’n rolmodel beskou, sê sy het gemengde gevoelens oor transgender vroue wat in vrouesport meeding.

“Ek is ses voet lank, ek het groot hande, ek het voorheen sokker gespeel, maar ek het ook baie spiermassa verloor,” sê Daniels.

“Kyk, ek dink dit is belangrik vir mense om uit te leef wie hulle is.”

Daniels is een van die beoordelaars wanneer Haley vir die kanovaart-slalom aantree. Dié nuwe nommer, wat die mans se slalom-pare vervang, is deel van die IOK se poging om ’n balans te vind tussen die getal mans- en vrouedeelnemers en die items waarin hulle meeding.

“My dogter baklei nog die grootste deel van haar roeiloopbaan vir geslagsgelykheid,” sê Daniels. – Reuters

• Spele-program

• Spele-uitslae

• Spele-medaljelys

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Transgender  |  Roei
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.