Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Trans-atleet tree uit ná Spele-buiging

Die transgender gewigopteller Laurel Hubbard gaan uittree nadat sy vandeesweek ’n geskiedkundige Olimpiese buiging in Tokio gemaak het.

Laurel Hubbard het Maandag vir die eerste en laaste keer aan die Olimpiese Spele deelgeneem. Foto: Getty Images

Die 43-jarige Hubbard is die eerste openlik transgender atleet wat aan die Spele deelneem.

Hubbard het Maandag misluk met al drie haar pogings in die gryphefafdeling en is ná die eerste ronde van die 87+ kg-swaargewigafdeling uitgeboender.

Hoewel Hubbard se vertoning op sport se grootste verhoog teleurgestel het, beskryf kampvegters vir transgender regte dit as ’n “geskiedkundige geleentheid vir ’n minderheidsgroep”.

Hubbard sê sy is nou gereed om die sport vaarwel toe te roep.

“Die ouderdom het my gevang. Om eerlik te wees, dit het my lank terug al gevang,” sê die Nieu-Seelander, wat meer as 20 jaar ouer is as die meeste van haar teenstanders.

“My deelname aan sport is grootliks danksy groot hoeveelhede anti-inflammatoriese medisyne en dit is waarskynlik tyd vir my om uit te tree en op ander dinge in my lewe te fokus.”

Laurel Hubbard gedurende ’n onderhoud in die Speledorp in Tokio. Foto: Getty Images

Hubbard is vol lof vir die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK), wat “morele leierskap” getoon het deur inklusiewe beleide toe te pas wat haar in staat gestel het om aan die Spele deel te neem.

“Ek is nie seker dat ek my ooit sal kan beywer om ’n rolmodel te wees nie, maar hopelik is ek in staat om ’n sekere gevoel van aanmoediging te inspireer.”

Hubbard is gebore as Gavin en het tot op 35-jarige ouderdom as ’n man geleef. Sy het voor haar geslagsverandering in 2013 in die mansafdeling meegeding.

Die IOK het in 2015 nuwe riglyne deurgevoer wat transgender atlete toelaat om as vroue deel te neem, mits hul testosteroonvlakke minstens 12 maande voor ’n kompetisie onder 10 nanomol per liter is.

Verskeie wetenskaplikes is gekant teen dié riglyne en meen dit doen min om die biologiese voordeel te demp van diegene wat deur manlike puberteit is, veral wat been- en spierdigtheid betref.

Voorstanders vir transgender inklusiwiteit voer aan die proses van geslagsverandering verminder die voordeel noemenswaardig en dat die fisieke verskille tussen atlete beteken daar is nooit werklik ’n gelyke speelveld nie.

Die IOK beplan om sy riglyne oor die kwessie ná afloop van die Tokio-Spele te heroorweeg.

Hubbard sê sy verwelkom die debat oor die kwessie wat deur haar Spele-buiging meegebring is.

“Ek is seker die gesprek is nodig. Hoewel ons reëls het, sal hulle ongetwyfeld verander en ontwikkel,” sê sy. – Reuters

Meer oor:  Laurel Hubbard  |  Olimpiese Spele  |  Iok  |  Transgender
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.