Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Twee van SA dra vanjaar vlag by Spele
Akani Simbine is waarskynlik een van die Suid-Afrikaners in die gesprek oor wie die Suid-Afrikaanse vlag in Vrydag se Olimpiese openingseremonie gaan dra. Foto: Getty Images

Die ringkoppe van Suid-Afrika se Olimpiese span sal vandeesweek selfs meer as gewoonlik kopkrap oor wie hulle as vlagdraer vir Vrydag se Olimpiese openingseremonie moet kies, nadat besluit is dat dié voorreg twéé deelnemers vanjaar te beurt kan val.

In vorige jare is besluit op Suid-Afrikaners van wie hoë verwagtinge voor die Spele gekoester is, met Caster Semenya en Wayde van Niekerk wat dié rol in onderskeidelik 2012 en 2016 vervul het.

As dieselfde kriteria vanjaar gebruik word, sal dit deelnemers soos die swemmers Tatjana Schoenmaker en Chad le Clos, die naelloper Akani Simbine of Van Niekerk in die gesprek plaas.

Le Clos sal vanjaar by sy derde Spele wees, maar het nog nooit ’n openingseremonie meegemaak nie, omdat hy altyd op die eerste dag van die skouspel in aksie was.

Vanjaar begin hy egter eers op die derde dag deelneem, in die 200 m-vlinderslag (waarin hy in 2012 die Olimpiese kampioen was), sodat hy die seremonie dié keer kan meemaak.

Tatjana Schoenmaker

Schoenmaker sal eers op die tweede aand van die Spele begin deelneem. Simbine en Van Niekerk se kompetisies begin eers in die tweede week van die Spele.

Ander moontlike kandidate soos die driekamper Henri Schoeman en roeier Lawrence Brittain, wat albei in Rio op die podium was, is waarskynlik nie in die gesprek nie omdat hulle reeds Saterdagoggend hul onderskeie aanslae sal loods.

Die openingseremonie sal vanjaar ’n minder feestelike atmosfeer as in vorige jare hê, met geen toeskouers wat toegelaat sal word nie.

Wat die atlete betref, is daar egter geen beperking op hoeveel vir die vlagparade mag uitstap nie. Span Suid-Afrika sal na raming sowat 80 atlete in die parade hê, met verteenwoordigers van die hokkie- en waterpolo-spanne, sokkerspelers, swemmers, driekampers en gimnaste deel van die groep.

• Die Suid-Afrikaanse o.23-sokkerspan se wedstryd teen Japan sal Donderdag voortgaan, ondanks drie positiewe Covid-19-toetsuitslae in hul midde.

Die Amaglug-glug, soos die sokkerspan in volksmond bekend staan, sal Suid-Afrika se eerste deelnemers by vanjaar se Spele wees.

Die span se voorbereiding is omvergewerp toe twee spelers, Thabiso Monyane en Kamohelo Mahlatsi, verlede week die eerste atlete in die Olimpiese atletedorp geword het wat positief vir die virussiekte getoets is. Die twee is saam met hul video-ontleder, Mario Masha, wat ook positief getoets is, in kwarantyn geplaas.

Die span se voorbereiding is omvergewerp toe twee spelers, Thabiso Monyane en Kamohelo Mahlatsi, verlede week die eerste atlete in die Olimpiese atletedorp geword het wat positief vir die virussiekte getoets is.

Bronwyn Roets, Span Suid-Afrika se mediabeampte, het gesê die span was Maandag en Dinsdag op die oefenveld, en gereed vir hul wedstryd. Hulle is in ’n groep geloot saam met Japan, Frankryk en Mexiko en sal hul veldtog Donderdag om 13:00 (SA tyd) in die Tokio-stadion afskop.

Hou openingseremonie hier dop
Die Olimpiese Spele se openingseremonie word Vrydag vanaf 12:50 (SA tyd) regstreeks op DStv se kanale 201 (SuperSport Grandstand) en 209 (SuperSport Variety 4) uitgesaai.

• Intussen het Tosjiro Moeto, die hoof van die Spele se plaaslike reëlingskomitee, die oë laat rek toe hy Dinsdag laat blyk het daar is steeds ’n kans dat die skouspel gekanselleer kan word.

In reaksie op ’n vraag by ’n mediakonferensie of die Spele nog afgelas kan word, het Muto gesê hy sou ’n oog hou op die infeksiesyfers en met ander organiseerders skakel sou dit nodig raak.

“Ons kan nie voorspel wat gaan gebeur met die getal koronavirus-gevalle nie,” het Moeto volgens Reuters gesê. “Ons het ooreengekom dat ons die vyf partye (betrokke by die organisering) bymekaar sal kry vir ’n bespreking as die koronavirus-situasie dit vereis. In hierdie stadium kan die gevalle nog styg óf val, so ons optrede sal daardeur bepaal word.”

Thomas Bach, hoof van die Internasionale Olimpiese Komitee.

Teen Dinsdag was daar reeds 71 positiewe gevalle onder Olimpiese rolspelers in Tokio, met derduisende joernaliste, beamptes en deelnemers nog op pad daarheen.

Thomas Bach, die president van die Internasionale Olimpiese Komitee (IOK) se versekering verlede week dat die Spele “zero risiko” van infeksie vir Japan se inwoners inhou, klink teen die agtergrond daarvan hol.

Boonop het drie Spele-borge, Panasonic, Fujitsu en NEC, aangedui hulle sal nie verteenwoordigers na Vrydag se openingseremonie stuur nie, en het Toyota Maandag besluit om al hul TV-advertensies wat gekoppel is aan die Spele te onttrek.

Meer oor:  Akani Simbine  |  Tatjana Schoenmaker  |  Thomas Bach  |  Tokio  |  Suid-Afrika  |  Japan  |  Iok  |  Openingseremonie  |  Olimpiese Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.