Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Verstote Spele-atleet veilig in Pole

Die Olimpiese atleet van Belarus wat ’n spanbevel verontagsaam het om vroeg van die Spele af huis toe te keer, het veilig in Pole aangekom.

Krystina Timanovskaya het veilig in Pole aangekom. Foto: Getty Images

Die naelloper Krystina Timanovskaya (24) het Tokio Woensdag verlaat. Die atleet het vir haar veiligheid gevrees toe sy Sondag gedwing is om haar tasse te pak en na die Haneda-lughawe geneem is nadat sy haar afrigters gekritiseer het.

Die herrie het begin toe Timanovskaya haar op sosiale media uitgelaat het omdat haar afrigters haar op kort kennisgewing vir ’n item ingeskryf het omdat van haar spanmaats nie gekies kon word nie.

Timanovskaya het Sondagaand in ’n lughawe-hotel deurgebring nadat sy die polisie op die lughawe om beskerming genader het. Sy het Maandag haar toevlug in die Poolse ambassade geneem voordat sy Woensdag na die Narita-lughawe gereis het om haar vlug na Wene, Oostenryk, te haal.

Sy het voor haar vlug gesê haar optrede is nie ’n politieke protes nie.

“Ek is lief vir my land en ek het nie my land verraai nie. Dit gaan oor die foute wat gemaak is deur ons afrigters en beamptes by die Spele.”

Timanovskaya sou aanvanklik direk na Warskou vlieg nadat Pole ’n visum aan haar toegestaan het, maar sy het om veiligheidsredes eers na Wene gereis.

Volgens ’n Oostenrykse beampte was Timanovskaya voor haar vlug na Pole “moeg en bekommerd oor haar toekoms, maar sy vaar andersins goed onder die omstandighede”.

Marcin Przydacz, Pool se adjunkminister van buitelandse sake, was onder diegene wat Timanovskaya in Warskou verwelkom het.

“Sy moet nou rus. Sy is moeg, maar verlig om in Pole te wees,” sê hy.

Van Timanovskaya se landgenote was op die lughawe met baniere en boodskappe van ondersteuning.

Pavel Latushko, ’n Belarussiese politikus in die opposisie wat in Warskou gesetel is, het ’n foto van hom saam met Timanovskaya op Twitter gedeel.

“Ons hoop die pyn van die regime sal vinnig tot ’n einde kom en dat Krystina kan terugkeer om nuwe sportprestasies in die nuwe Belarus te behaal!” sê hy.

Timanovskaya se man, Arseni Zhdanevich, het uit Belarus gevlug en bevind hom in Oekraïne. Hy het ook ’n Poolse visum ontvang.

Hy sê die egpaar was nog nooit by die politiek betrokke nie en sal na Belarus terugkeer indien hulle nie van ’n misdaad aangekla word nie.

Die Internasionale Olimpiese Komitee ondersoek die aantygings dat die Belarussiese span Timanovskaya probeer dwing het om huis toe te gaan.

Die Belarussiese Olimpiese Komitee het in ’n verklaring beweer Timanovskaya is weens haar “emosionele en geestelike toestand” aan die Spele onttrek. – Reuters, Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.