Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Verstote Spele-atleet verander haar reisplan

Die Olimpiese atleet van Belarus wat geweier het om op ’n vliegtuig te klim nadat haar span haar teen haar wil na die lughawe geneem het, het Japan Woensdag verlaat.

Krystina Timanovskaya op pad na Wene, Oostenryk. Foto: Getty Images

Krystina Timanovskaya (24) het egter om veiligheidsredes haar reisplanne op die nippertjie aangepas.

Die naelloper sou aanvanklik direk na Warskou vlieg nadat Pole ’n visum aan haar toegestaan het, maar sy is nou eers na Wene, Oostenryk, op pad.

Sy het op die Narita-lughawe in Tokio aan die BBC gesê haar optrede is nie ’n politieke protes nie.

“Ek is lief vir my land en ek het nie my land verraai nie,” sê Timanovskaya.

“Dit gaan oor die foute wat gemaak is deur ons afrigters en beamptes by die Spele.”

Die atleet het vir haar veiligheid gevrees toe sy Sondag gedwing is om haar tasse te pak en na die Haneda-lughawe geneem is nadat sy haar afrigters gekritiseer het.

Timanovskaya het Sondagaand in ’n lughawe-hotel deurgebring nadat sy die polisie op die lughawe om beskerming genader het. Sy het Maandag haar toevlug in die Poolse ambassade geneem voordat sy Woensdag na die Narita-lughawe gereis het om haar vlug na Wene te haal.

Krystina Timanovskaya het Sondagaand die polisie op die Haneda-lughawe om beskerming genader. Foto: Reuters

Die Belarussiese Olimpiese Komitee het in ’n verklaring beweer Timanovskaya is weens haar “emosionele en geestelike toestand” aan die Spele onttrek.

Timanovskaya sê egter sy sukkel nie met haar geestesgesondheid nie en het nie gesprekke gevoer met dokters in die Speledorp nie.

“Ek was verras toe spanbeamptes my inlig my Spele is kortgeknip, want ek het niks polities gesê nie. Ek sal graag eendag na Belarus wil terugkeer wanneer ek weet dit is veilig, miskien eers oor vyf of tien jaar,” sê Timanovskaya.

Die Internasionale Olimpiese Komitee ondersoek die saak.

Timanovskaya se man, Arseni Zhdanevich, het sedertdien uit Belarus gevlug en bevind hom in Oekraïne. Hy sê die egpaar was nog nooit by die politiek betrokke nie en sal na Belarus terugkeer indien hulle nie van ’n misdaad aangekla word nie.

Vitaly Shishov, hoof van ’n stigting wat hulp verleen aan Belarussiese burgers wat oorsee vlug, is Dinsdag naby sy huis in Oekraïne dood gekry.

Shishov het glo doodsdreigemente gekry en is die laaste tyd agtervolg. – Reuters, Sportredaksie

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.