Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Vir Tatjana vat ek oorlog toe, sê afrigter
Tatjana Schoenmaker deel Maandag ’n paar woorde met die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, nadat sy van die Olimpiese Spele af in Suid-Afrika aangekom het. Foto: Deaan Vivier

Dit het nog nie regtig tot Tatjana Schoenmaker deurgedring dat sy nou ’n Olimpiese kampioen en Suid-Afrikaanse sportheldin is toe sy Maandagmiddag op die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg se internasionale aankomssaal ingestap het nie.

Maar eintlik, sê sy, gaan dit nog veel langer vat om haar van die grootsheid wat sy bereik het te oortuig.

“Ek dink dit sal my dalk rêrig tref wanneer ek by die huis is en saam met my gesin kan feesvier, maar eintlik sal ek verkies dat dit nie heeltemal insink nie sodat niks my fokus van die volgende groot ding voor my wegneem nie,” het die nuwe wêreldrekordhouer en Olimpiese kampioen in die 200 m-borsslag gesê kort nadat ’n raserige groep vriende en mede-swemmers haar Maandag terug in Suid-Afrika verwelkom het.

“Vir my was die belangrikste om mense ’n bietjie hoop te gee, en om God se liefde deur my swem te wys. As daar iemand daarbuite is wat God se liefde en teenwoordigheid ervaar het terwyl hulle my gesien deelneem het, het ek bereik waarvoor ek gehoop het.”

Dié 24-jarige Tukkie het Vrydagoggend in Tokio die eerste vroueswemmer nóg geword wat die 200-borsslag in minder as 2 minute en 19 sekondes kon aflê (met ’n nuwe wêreldrekord van 2:18.95).

Minder as vier maande vroeër was sy in die wolke oor ’n nuwe Afrika-rekord van 2:20.17 in die nasionale kampioenskappe – maar dit was ’n slakkegang teen wat sy in Tokio vermag het.

Op die vraag of sy nóg vinniger kan swem, het Schoenmaker gesê dit is nie dadelik ’n prioriteit nie.

“Ek wil vanselfsprekend eendag vinniger swem, ek wil nie vir altyd op hierdie tyd bly nie, maar dis nie maklik om wêreldrekords te breek nie,” het sy gesê. “Die vorige rekord het sedert 2013 gestaan.

As ek iemand moet kies om mee oorlog toe te gaan, sal dit Tatjana wees, want wanneer dit swaar gaan, staan sy op en doen wat nodig is

“So ek sal tevrede wees as ek vir ’n rukkie deurlopend naby aan my rekord kan kom, en dan hopelik later weer onder dit gaan.”

Rocco Meiring, Schoenmaker se afrigter, het ’n heel ander beskouing van die saak.

“Sy kan beslis vinniger swem en vir so lank ek haar afrig, sal ek alles moontlik doen om haar vinniger te maak,” het hy gesê.

Meiring het gesê Schoenmaker verdien al die lof wat sy nou kry.

“As ek iemand moet kies om mee oorlog toe te gaan, sal dit Tatjana wees, want wanneer dit swaar gaan, staan sy op en doen wat nodig is,” het hy gesê.

“Jy kan iemand net tot op ’n sekere punt afrig,” het hy bygevoeg. “Ek kan nie insit wat God uitgelaat het nie, en sy is deur God geseën met uitsonderlike vaardighede en talent, en die vermoë om werklike hoë druk te hanteer.”

Volgens Meiring het hy veel hoër standaarde aan Schoenmaker gestel as aan enige ander swemmer wat hy al afgerig het.

“Ek rig al 33 jaar af, maar ek dink nie ek het enigiemand al ooit deur soveel hel gesit soos vir Tatjana nie. Dit was vyf jaar van absolute hel vir haar en party dae het ek aaklig gevoel om dit aan haar te doen, maar ons is in ’n baie moeilike sport en die hoogste vlak daarvan skuif die heel tyd hoër,” het hy gesê.

“Niemand het geweet wat om te verwag by hierdie Spele nie, en mense gaan selfs vinniger in Parys (se Spele in 2024) wees.

“Ons as internasionale afrigters het baie lesse geleer in die Covid-tyd, en ons gaan ernstig moet dink oor hoe ons dinge in Suid-Afrikaanse swem doen. En ons gaan finansiële ondersteuning nodig hê, sonder twyfel, want dinge gaan nie makliker raak nie. Dit gaan baie moeiliker raak om medaljes te lewer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.