Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
VSA-blitse kan horlosie terugdraai

As die wêreldranglys en huidige peil enige aanduiding is, kan die geskiedenis hom vanjaar moontlik die eerste keer in meer as ’n eeu by die Olimpiese Spele herhaal.

In 1912 het Amerika ’n prestasie in die mans se 100 m behaal wat sedertdien nog nie weer geëwenaar kon word, naamlik dat al drie medaljes in die eindronde van dié wedloop deur Amerikaners gewen is.

Ronnie Baker, Trayvon Bromell en Fred Kerley sal Amerika in die 100 m in die Olimpiese Spele in Tokio verteenwoordig. Foto: Getty Images

Destyds was dit Ralph Craig (goud), Alvah Meyer (silwer) en Donald Lippincott (brons) wat skoonskip gemaak het. Nou, 109 jaar later, kan die trio Trayvon Bromell, Ronnie Baker en Fred Kerley moontlik in Tokio hul voorgangers van die vorige eeu nadoen.

Bromell, sover vanjaar die vinnigste atleet in die wêreld, het die Amerikaanse Olimpiese uitdunne Sondag in Eugene, Oregon, in ’n blitstyd van 9.80 sekondes gewen, met Baker (9.85) en Kerley (9.86) wat kort op sy hakke gevolg het.

Dié drietal spog nou tussen hulle met vanjaar se vier vinnigste tye. Bromell het drie weke gelede ’n selfs haastiger 9.77 gehardloop.

Toe die diep gelowige Bromell Sondag oor sy oorwinning uitgevra is, vyf jaar nadat ’n besering sy Olimpiese veldtog in Rio de Janeiro ontspoor het, het hy alle eer aan God gegee en gesê dat hy “vir Christus hardloop”.

Die veteraan-naelloper Justin Gatlin (39) kon nie vir ’n vierde Spele kwalifiseer nie. Hy het weens ’n beenbesering in die agtste plek oor die wenstreep gehinkepink.

Noah Lyles (33) het slegs sewende geëindig, maar sal sy visier nou rig op ’n oorwinning in die 200, die item waarin hy die wêreldkampioen is.

Die superster Allyson Felix het seker gemaak dat sy aan haar vyfde Spele gaan deelneem.

Sy het tweede geëindig in die 400 in ’n tyd van 50.02. Sy spog reeds met nege Olimpiese medaljes.

Met haar tweejarige dogter, Camryn, wat vanuit die paviljoene dopgehou het, het Felix nogmaals ’n indrukwekkende vertoning gelewer.

“Dit was ’n stryd om tot hier te kom en een ding wat ek weet hoe om te doen, is te baklei,” het Felix ná haar wedloop gesê.

“Om ’n vyfde Spele se haal, is só spesiaal.”

Felix, wat ’n ongeëwenaarde 13de goue medalje verower het in die Wêreldkampioenskappe in 2019, sal haar in die Tokio-400 aansluit by Quanera Hayes, wat gewen het in 49.78 en Wadeline Jonathas, wat derde was in 50.03.

Felix se dogter en Hayes se seun het ná hul wedloop op die baan gekom om vir hul ouers drukkies te gee. – Sportredaksie, Reuters.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Atletiek  |  Tokio-Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.