Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Wayde in SA se 4x100-aflosspan

Die 4x100 m-aflos kan dalk net vir Wayde van Niekerk en Akani Simbine ’n pad na die Olimpiese podium in Tokio bied nadat besluit is om Van Niekerk as een van Simbine se spanmaats te betrek vir dié nommer.

’n Plek in dié span het oopgegaan nadat Gift Leotlela Sondag in die halfeindronde van die 100 m ’n dyspierbesering opgedoen het wat sy Spele beëindig het.

Wayde van Niekerk probeer afkoel nadat hy Maandag in die Olimpiese halfeindronde van die 400 m uitgeskakel is. Hy sal nou nog ’n kans hê om die podium te haal as lid van Suid-Afrika se 4x100 m-aflosspan. Foto: Getty Images

Leotlela het in Mei saam met Simbine, Clarence Munyai en Thando Dlodlo op die Wêreld-aflosbyeenkoms in Pole goud losgehardloop.

Om hom te verloor, is ’n groot slag vir die SA span. Leotlela het sy 100 m-uitdun Saterdag lag-lag gewen met ’n tyd van 10.04 sekondes en ook in die halfeindronde goed vertoon voordat hy na sy dyspier gegryp het.

Maar in Van Niekerk het Span Suid-Afrika natuurlik ’n ervare atleet en ware spoedvraat wat hom al oor die 100 m, 200 m en 400 m bewys het.

Van Niekerk spog met ’n beste tyd van 9.94 oor 100 m, maar dit is nou reeds vier jaar sedert hy daardie tyd in Junie 2017 opgestel het. ’n Paar maande later het hy ’n kniebesering in ’n raakrugby-wedstryd opgedoen, wat hom tot vroeg in 2020 buite aksie gehou het, en die knie is nog nie sedertdien in ’n kompetisie oor 100 m getoets nie.

Nietemin was hy in sy twee 400 m-wedlope in Tokio vinnig genoeg oor die eerste 300 m om ’n mens te laat vermoed sy grootste struikelblok was ’n gebrek aan lug in die longe.

Danie Cornelius, wat Suid-Afrika se aflosspanne in Mei as spanbestuurder na Pole vergesel het, het Woensdag gesê hy dink dis ’n skitterende idee om Van Niekerk by die aflos te betrek.

“Ons weet hoe ’n goeie draai-hardloper hy is, so ’n mens kan hom dalk inskuif in die derde been om die stokkie vir Akani oor te gee,” het Cornelius gesê.

’n Teleurgestelde Akani Simbine nadat hy in die 100 m vierde was. Foto: Gallo Images

“Wayde is ’n ou hand en hy gaan nie sukkel om in te pas nie. Inteendeel, hy was ’n ruk terug op dieselfde tyd as die aflosspan in Gemona, so ek sal nie verbaas wees as hy wel al saam met die ander geoefen het nie.

“Ons het ook nou aan veral die begin van sy 400 m-wedlope gesien hy het nog sy spoed.”

Vir Cornelius is daar egter veral een element wat Van Niekerk se betrokkenheid ’n meesterskuif kan maak.

“Sowel Wayde as Akani het pas groot teleurstellings agter die rug (Simbine ná sy vierde plek in die 100 m-eindronde), so hulle gaan brand om daarvoor te vergoed. Dit kan hulle baie gevaarlik maak,” het hy gesê.

Simbine het dit reeds verlede week, voor die 100 m, duidelik gemaak dat hy droom van ’n medalje in die 4x100-aflos.

Op ’n vraag of hy en sy spanmaats hulself in hul geestesoog saam op die podium kan sien staan, het hy geantwoord: “Ek sal nooit daarmee tevrede wees om ’n eindronde sonder ’n medalje af te sluit nie.”

Die SA span is Donderdag om 04:30 (SA tyd) in die eerste uitdun in aksie. Brasilië, Brittanje, Japan, Jamaika, Nederland, Trinidad en Tobago en Frankryk is hul teenstanders.

Suid-Afrika se beste tyd vanjaar is 38.49 sekondes. Brittanje (38.27), Jamaika (38.33) en Brasilië (38.45) het vanjaar al vinniger as die Suid-Afrikaners gehardloop, terwyl Nederland se vinnigste tyd ook 38.49 is.

Dít wys hoe moeilik dit gaan wees om ’n outomatiese kwalifiseerder vir die eindronde te wees.

Die drie vinnigste spanne in elk van die twee uitdunne, asook die twee “vinnigste verloorders”, sal Vrydag om 14:50 (SA tyd) vir die eindronde aantree.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.