Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Wayde ‘stel homself teleur’ in Tokio

Hy het in Tokio opgedaag as die wêreldrekordhouer en verdedigende Olimpiese kampioen, maar vir Wayde van Niekerk het sy Spele-veldtog nie afgeloop soos hy gehoop het.

Van Niekerk se vertoning in die halfeindronde sou vir baie Suid-Afrikaners ’n skok gewees het, maar sy onlangse peil het daarop gedui dat hy sou sukkel om sy kroon suksesvol te verdedig.

Wayde van Niekerk is Maandag in die halfeindronde van die 400 m op die Tokio-Spele uitgeboender. Foto: Reuters

Ná twee haastige halfeind-wedlope was daar nog meer druk op die Suid-Afrikaner, wat in die derde en laaste halfeind-wedloop aangetree het. Hy moes of onder die voorste twee atlete in die halfeind eindig of minstens ’n tyd van 44.92 sekondes opstel om as een van die twee “vinnigste verloorders” tot die eindronde deur te dring.

Van Niekerk was vinnig uit die blokke en het aanvanklik die krane mooi oopgedraai, maar hy het om die laaste draai begin uitsak en moes eindelik in ’n tyd van 45.14 sekondes met die vyfde plek tevrede wees.

KYK: Wayde van Niekerk se 400m-halfeindwedloop.

Van sy kenmerkende eindpoging oor die laaste 50 m was daar dié slag niks te sien nie.

“Ek is natuurlik teleurgesteld in my vertoning,” het hy daarna gesê.

“Ek het baie meer van myself verwag, maar dit het nie uitgewerk soos wat ek gehoop het nie. Dit is wat dit is en ons moet nou vorentoe kyk.”

Van Niekerk het vyf jaar gelede in Rio de Janeiro ook nie die wêreld aan die brand gehardloop in die uitdunne en halfeindronde nie, maar sy beste gelos vir die eindronde, waar hy die wêreld met sy 43.03 verstom het.

In Tokio was dit egter nie ’n geval van Van Niekerk wat teruggehou het nie en sy middelmatige tye in sy uitdun en halfeind-wedloop was suiwer net ’n weerspieëling van sy huidige peil.

Die Bahamas se Steven Gardiner was die vinnigste van die manne wat langs Van Niekerk aangetree het. Sy tyd was 44.14, met die Amerikaner Michael Norman wat in 44.52 die naasbeste was.

Kirani James van Grenada, 2012 se Olimpiese kampioen, wat in die eerste halfeindronde in aksie was, was egter algeheel die vinnigste in 43.88.

Colombia se Anthony Jose Zambrano het met 43.93 in James se nek geblaas.

’n Groot deel van Van Niekerk se probleem is dat hy eenvoudig nie wedloopfiks was nie.

Hy het Maandag maar net die vierde keer vanjaar in die 400 m aangetree. Dít was nadat hy hom by verskeie geleenthede op kort kennisgewing aan wedlope onttrek het.

Sy vinnigste tyd vanjaar was 44.56 wat hy in Junie behaal het.

• Wenda Nel se aanslag in die 400-hekkies het ook in die halfeindronde tot ’n einde gekom. Sy het in gietende reën in ’n tyd van 56.35 sewende geëindig.

Die 33-jarige, ’n negemalige nasionale kampioen en Statebond-bronsmedaljewenner in 2018, het ver agter die wêreldrekordhouer, Sydney McLaughlin van die VSA, geëindig. McLaughlin het dié halfeind-wedloop in ’n blitsige 53.03 gewen, terwyl Gianna Woodruff van Panama in 54.22 tweede was.

Hulle sal in die eindronde poog om Dalilah Muhammad as die verdedigende kampioen te onttroon nadat sy haar wedloop in 53.30 voltooi het.

“Ons aandag skuif nou na die oorblywende atlete wat nog sal poog om op die podium te kom. Ons sien uit na hul deelname terwyl ons steeds ’n medalje in atletiek soek,” het James Moloi, president van Atletiek Suid-Afrika (ASA), in ’n verklaring gesê.

Jo-Ane van Dyk (spiesgooi), Anaso Jobodwana, Clarence Munyai en Shaun Maswanganyi (almal 200 m), asook die gewigstoters Kyle Blignaut en Jason van Rooyen, en die langasem Precious Mashele (5 000 m) is Dinsdag in aksie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.