Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Goud én wêreldrekord vir Super-Wayde
Wayde van Niekerk op sy knieë nadat hy goud verower het en 'n nuwe wêreldrekord opgestel het op die Olimpiese Spele in Rio de Janeiro. Foto: REUTERS/Carlos Barria
Wayde van Niekerk nadat hy Olimpiese goud in 'n nuwe wêreldrekordtyd verower het. Foto: Getty
Oor die eindstreep in 'n wêreldrekordtyd. Foto: Reuters
Wayde van Niekerk met die Suid-Afrikaanse vlag ná sy sege in die eindronde van die 400 m in Rio de Janeiro. Foto: Cameron Spencer/Getty Images

Dit was veronderstel om Usain Bolt se aand te wees – maar toe tref ‘n ander weerligstraal Rio de Janeiro se Olimpiese stadion Sondag met ‘n vertoning wat geen woorde ordentlik kan beskryf nie.

Die Bloemfonteiner Wayde van Niekerk kan homself vanoggend ‘n Olimpiese kampioen én wêreldrekordhouer noem, nadat hy die eindronde van die 400 m met ‘n haas-ongelooflike tyd van 43.03 sekondes gewen het.

Die Suid-Afrikaanse blits het Michael Johnson se 17 jaar-oue rekord van 43.18 te pletter gehardloop en só ver voor sy naaste teenstanders geëindig dat hulle omtrent nie meer in sy truspieëltjie gewys het nie.

Kirani James van Grenada, die kampioen van 2012, moes met 'n tyd van 43.76 met silwer tevrede wees, terwyl die 2008-kampioen, die Amerikaner LaShawn Merritt in 43.85 derde geëindig het.

Nadat die 24-jarige Van Niekerk verlede jaar in Beijing as wêreldkampioen in die 400m gekroon is deur vir die eerste keer onder die magiese 44 sekonde-kerf te duik, het hy gesê hy glo Olimpiese goud is syne om te verloor. Maar nadat hy in die Olimpiese halfeindronde net die vyfde beste tyd kon opstel, moes hy tevrede wees met 'n eindronde in baan 8 - en die skeptici het hom vinnig afgeskryf.

Hy sal nie weet waar sy teenstanders is nie, het hulle gesê. Hoe sal hy weet watter tempo nodig is as hy nooit weet waar in die ren hy hom bevind nie?

Wel, Van Niekerk het nie nodig gehad om te weet wat James, Merritt en die res aanvang nie. Sy ren was nie teen hulle nie, sy ren was teen die horlosie. En daardie kompetisie het hy loshande gewen.

Reeds voor hy in Rio de Janeiro aangekom het, het Van Niekerk 'n spesiale plek in atletiek se annale beklee, as die enigste man wat sub-10 in die 100m, sub-20 in die 200 m en sub-44 in die 400 kon hardloop. Toe hy, James en Merritt verlede jaar almal onder die 44 sekonde-kerf duik in die eindronde by die Wêreldkampioenskappe (wat hy in 43.48 sekondes gewen het) was dit geskiedenis.

Toe reeds het die slim mense voorspel dat Johnson se rekord in gevaar was - maar jy sal ver soek vir iemand wat gedink het hy kan so gou so naby aan 'n sub43-tyd kom.

In Suid-Afrika sou mense vanoggend met 'n glimlag wakker geword het. Span Suid-Afrika het nou reeds sewe medaljes - een goue, vyf silwer en een bronsmedalje - en het met 'n week van Olimpiese aksie oor reeds die 2012-totaal van ses verbygesteek.

Van Niekerk se goue medalje is Suid-Afrika se eerste in atletiek sedert Josia Thugwane in 1996 die Olimpiese marathon-titel gewen het. En jy moet al die pad na die Spele van 1920 teruggaan om 'n Suid-Afrikaanse naelloper te vind wat goud gewen het. Toe was dit Bevil Rudd, ook in die 400.

Dit was boonop nie net vir Van Niekerk 'n aand van eerstes nie. Ook sy kamermaat en goeie vriend, Akani Simbine, het die rekordboeke herskryf.

Simbine het die eerste Suid-Afrikaanse man in 84 jaar geword wat die Olimpiese eindronde van die 100 m kon haal, en het uiteindelik vyfde daarin geëindig met 'n tyd van 9.94 sekondes.

Bolt het koning van die 100 m gebly en is nou die eerste man in die geskiedenis wat die item drie keer in 'n ry kon wen. Sy wentyd was 9.81 - maar selfs hy was so meegevoer deur Van Niekerk se heldedade dat hy 'n onderhoud onderbreek het om wêreldatletiek se nuutste superster se hand te gaan skud.

Is dit 'n vliegtuig? Is dit 'n voël? Nee, dis Wayde van Niekerk - en hy staan nou maar eers aan die begin van sy pad na grootsheid.


Meer oor:  Spele  |  Wayde Van Niekerk  |  Goue Medalje  |  400 M  |  Rio  |  Goud
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.