Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Olimpiese Spele
Weber: ‘Dit was soos om in ’n jacuzzi te swem’

Michelle Weber was nie seker of sy in 2024 weer die stampe en stote wat gepaardgaan met Olimpiese oopwater-swem wou aandurf nie.

Maar ná sy Woensdag net 21ste in die 10 km-resies van die Tokio-Spele was, het sy nie meer twyfel nie.

TOKYO, JAPAN - AUGUST 04: Swimmers prepa start the
Deelnemers maak gereed om weg te spring in die 10km-oopwaterswem-resies in Tokio. Foto: Getty Images

“Ek het onafgehandelde sake,” het die 24-jarige Bolander ’n paar uur ná ’n woeste oggend in die waters van die Odaiba-marinepark aan TeamSA gesê.

Weber, wat die resies ná twee uur, ses minute en 56.5 sekondes met twee seerplekke bo haar regteroog voltooi het, was in aksie in haar tweede Olimpiese Spele, nadat sy vyf jaar gelede in Rio de Janeiro 18de was.

Sy het gaan aantree met drome van ’n medalje, erken Weber, maar nietemin sonder spyt uit die water gekom.

“Ek het onder die omstandighede my bes gegee,” het sy gesê. “Nou sien ek klaar uit na Parys (in) 2024. Toe ek hierheen gekom het was ek nie seker of ek deur nog ’n siklus met al die opofferinge wou gaan nie. Maar ek het onafgehandelde sake.

Die toestande was ontsettend moeilik – dink daaraan as swem in ’n jacuzzi vir meer as twee ure.
Michelle Weber

“Woensdag se resies was regtig moeilik. Mense kan dalk die uitslag sien en aanbeweeg, maar nie die groter prentjie nie.

“Toe ek hier gekom het, het ek regtig gedink ek kan ’n medalje wen, maar ek verstaan hoekom dit nie gebeur het nie. Die toestande was ontsettend moeilik – dink daaraan as swem in ’n jacuzzi vir meer as twee ure. Toe ons begin het, was die water se temperatuur 29º C en teen die einde by 30. Ek het verlede week uit Kaapstad hier aangekom, ná ek heeltyd in Stellenbosch geoefen het in water van 20º C en ’n buitetemperatuur van 3º C.

“Die vrou wat gewen het (Ana Marcela Cunha van Brasilië) het vir ses weke in Spanje geoefen, in water van 28º C. Sy, en baie van die vroue wat in die toptien was, het ’n oefenkamp van drie maande gehad.

“Ons Covid-19-inperking was langer en strenger as baie ander lande s’n. Swembaddens was toe, ons kon nie reis nie en ons het nie finansiering gekry nie. So my voorbereiding was nie (ewe) goed nie.”

Die Suid-Afrikaanse skaatsplankryer Melissa Williams Woensdag tydens die uitdunne van die park-kompetisie vir vroue. Foto: Anton Geyser | SASPA | SASI

• Waar Weber Woensdag deur onbekende toestande teruggehou is, is twee van Span Suid-Afrika se ander deelnemers op die dag gerem deur die onbekendheid van die verhoog waarop hulle was.

Die skaatsplankryer Melissa Williams en sportklimmer Erin Sterkenburg het byvoorbeeld hul Olimpiese buigings gemaak in sportsoorte wat nou vir die eerste keer op die Olimpiese skedule is.

Williams (35) is nie ’n professionele skaatsplankryer nie, en was al in haar lewe ’n restaurantbestuurder, die eienaar van ’n bemarkingsmaatskappy, ’n mededingende bokser en ’n tromslaner in ’n groep. Hoe groot die kloof is tussen haar en die tieners wat dag en nag op hul skaatsplanke is en vuurwerk by die Spele gelewer het, is wreed ontbloot.

Waar Williams se beste poging in die uitdunne haar 8.30 punte in die sak gebring het, het die 19-jarige Sakura Yosozumi later goud gewen met 60.09 punte. Kokona Hiraki, wat eers oor drie weke 13 jaar oud word, was tweede met 59.04 punte en die Britse 13-jarige Sky Brown derde met 56.47.

Erin Sterkenburg glimlag breed tydens die sportklim-kompetisie vir vroue. Foto: Anton Geyser | SASPA | SASI

Sterkenburg het ook, soos Williams, 20ste uit 20 deelnemers geëindig in haar kompetisie. Die 18-jarige is ’n matrikulant aan die Westville-meisieskool in Durban en het volgens die Spele se amptelike webblad juis besluit op dié skool omdat sy gesien het hulle het ’n klimklub.

• Suid-Afrika se baanfietsryers het ook ’n teleurstellende dag gehad.

Jean Spies kon nie die kwalifiseringsronde van die naelrit-afdeling oorleef nie, met ’n tyd van 9.787 sekondes wat hom 27ste uit 30 jaers geplaas het.

Charlene du Preez moes in haar uitdun in die keirin- (renfiets) kompetisie in die toptwee eindig om te oorleef, maar was vierde.

Meer oor:  Olimpiese Spele  |  Michelle Weber  |  Tokio-Spele
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.