Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
2 Puma-breiers neem leisels by Griekwas

Brent Janse van Rensburg, oudafrigter van die Pumas, is die nuwe hoofbreier van Griekwas se rugbyspan in die plek van Peter Engledow.

Brent Janse van Rensburg maak binnekort Kimberley sy tuiste. Foto: Gallo Images

Die Griekwaland-Wes Rugbyunie het Vrydag in ’n verklaring aangekondig die 38-jarige Janse van Rensburg, wat die Pumas vanjaar na die titel van die SuperSport-uitdaagreeks gelei het, is die nuwe hoofafrigter.

Hy is drie jaar gekontrakteer en sal op 1 November by die Poubloues inval.

Engledow, wie se kontrak nie hernu is nie, sluit hom aan die einde van die seisoen aan by die Hoër Jongenskool Paarl.

Jannie Louw, president van Griekwas, sê Janse van Rensburg word as een van die beste jong afrigters in die land beskou.

“Ons reken dat hy Griekwas na die hoogtes kan neem wat ons graag wil bereik.”

Janse van Rensburg het Eugene Eloff (oudafrigter van die Amerikaanse klubspan die Austin Huns), Pieter Bergh (tans hulpafrigter van Griekwas) en die Luiperds- en Pukke-afrigter Jonathan Mokuena, wat almal op die kortlys was, uitgestof.

Janse van Rensburg, wat tevore ook sukses met spanne soos die Boland en die Madibaz behaal het, het verlede maand skaars ’n week voor die begin van die Curriebeker-reeks by die Pumas bedank.

CJ van der Linde in 2017 toe hy by die Pumas was. Foto: Getty Images

In ’n ietwat verrassende skuif is die voormalige Springbok-stut CJ van der Linde as voorspelerafrigter aangestel.

Van der Linde (38) was in 2017 die Pumas se voorspelerafrigter in die tyd dat Janse van Rensburg die hoofafrigter was.

Onder Van der Linde, wat 75 toetse vir die Bokke gespeel het, se afrigting was die Pumas se voorspelers gedug in 2017 se Curriebeker-reeks.

Hy is egter laat verlede jaar die deur by die Laevelders gewys omdat hulle hom nie meer kon bekostig nie.

Die toekoms van Bergh en die voorspelerafrigter Denzil Frans is duister omdat albei se kontrakte aan die einde van die seisoen verstryk.

Die onus rus op Janse van Rensburg om die res van sy afrigtingspan aan te stel.

Veral Bergh, wat sedert 2012 by die unie betrokke was, kan homself ongelukkig ag dat hy nie die paal gehaal het nie. Dit is algemeen bekend dat hy hoog aangeslaan word in Kimberley vir sy werk met die Poubloues se agterlyn.

Meer oor:  Brent Janse Van Rensburg  |  Puma  |  Cj Van Der Linde  |  Afrigters  |  Griekwas
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.