Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
2 Varsitybeker-wedstryde uitgestel

Twee wedstryde in die Varsitybeker-rugbyreeks wat Maandag beslis moes word, is tot ’n latere datum uitgestel.

Die Ixias en Noordwes-Universiteit (NWU) se kragmeting, sowel as die tussen Wits en die Universiteit van Johannesburg, sal nou eers op 25 Mei beslis word.

Spelers van die Noordwes-Universiteit hou kajuitraad tydens hul onlangse wedstryd teen Wits op Loftus Versfeld in Pretoria. Foto: Gallo Images

Die besluit om die wedstryde uit te stel, is Donderdagaand geneem, luidens ’n verklaring van die Varsitybeker-reeks. Dit volg nadat daar vier spanne was met spelers wat positief getoets is ná afloop van die tweede bioborrel, wat op 30 April ten einde geloop het.

Tuks het blykbaar net twee positiewe gevalle gehad. Wat Wits en die Ixias betref, het dié twee spanne na wat verneem word elkeen meer as 10 positiewe gevalle gehad.

Die probleem is dat diegene wat positief getoets is vir 10 dae in isolasie moet wees en dan nog ses dae stelselmatig ’n terugkeer tot die spel moet maak.

Dit beteken dat spanne soos Wits en die Ixias nie genoeg spelers het om Maandag reeds ’n mededingende span te kies nie.

Maandag se ander drie wedstryde, die tussen Maties en Madibaz, Ikeys en die Universiteit van Wes-Kaapland, asook Tuks teen Shimlas gaan soos beplan voort.

Daar word verneem dat daar onder sekere spanne ongelukkigheid is oor die besluit om die wedstryde uit te stel. Dit in die lig daarvan dat die kragmeting tussen die Ikeys en Tuks in die laaste borrel afgestel is weens positiewe gevalle by die Pretorianers.

Albei spanne het toe twee punte gekry. Daar was diegene wat gevoel het dat die Ikeys as’t ware gestraf word vir virusgevalle by Tuks.

Die vier spanne wie se wedstryde nou nie meer Maandag plaasvind nie, het ingestem om dit op 25 Mei te beslis. Die negende en laaste ronde van die reeks word twee dae voor dit, op 23 Mei, beslis. Die halfeindronde is steeds geskeduleer vir 28 Mei en die eindstryd vir 31 Mei.

Vir die Ixias en NWU sal dit baie belangrik wees dat hul wedstryd voortgaan soos beplan. Die Bloemfonteiners is derde op die puntelys en die Potchefstromers vyfde.

Albei die spanne is nog in die wedloop vir ’n plek in die halfeindstryd.

Wat die uitstel van die wedstryde betref, is die Varsitybeker-reeks op dun ys.

Die reeks is veronderstel om op 31 Mei klaar te maak, maar dit lyk nou moontlik dat die reeks eers in Junie sal eindig.

Na verneem word het baadjiedraers by die Suid-Afrikaanse Rugbyunie dit aan die ringkoppe van die studentereeks duidelik gestel dat die reeks op 31 Mei móét klaarmaak.

Maandag se bepalings (op Loftus Versfeld): 15:00: Maties t. Madibaz; 17:00: Ikeys t. Universiteit van Wes-Kaapland; 19:00: Shimlas t. Tuks.

Meer oor:  Varsitybeker  |  Koronavirus  |  Uj  |  Uitgestel  |  Ixias  |  Wits  |  Bioborrel  |  Covid-19  |  Nwu
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.