Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
2 verloopte Leeus terug in trop
Jaco Kriel in volle vaart! Dit is ’n gesig wat Leeus-ondersteuners Saterdag weer te siene sal kry. Foto: Getty Images

Twee van die troepe wat Johan Ackermann na Gloucester gevolg het toe daardie voorslag-afrigter van die Leeus enkele jare gelede na Engeland getrek het, is terug in die Leeus se beginspan vir Saterdag se eerste plaaslike rugbywedstryd sedert Maart.

Jaco Kriel is as flank ingesluit, terwyl Ruan Dreyer die vaskopstut is wat die Stormers aandurf op Loftus Versfeld in die “Superfan”-dag.

Die Leeus-landskap het aansienlik verander sedert hul laaste wedstryd in Maart in die Superreeks teen die Blues in Auckland, toe hulle goed afgeransel is.

Slegs ses spelers wat daardie dag in die beginspan was, sal nou teen die Stormers uitdraf.

Hulle is die linkervleuel Courtnall Skosan, die skakelpaar, Elton Jantjies en André Warner, die agtsteman Hacjivah Dayimani, die slot Marvin Orie en die loskopstut Dylan Smith.

Daar is vier spelers wat die eerste keer in ’n Leeus-trui gesien sal word. Hulle is die voormalige Blou Bulle, Divan Russouw (heelagter), Burger Odendaal (senter), en Jaco Visagie (haker). Die oud-Cheetah-vleuel Sibahle (Rabz) Maxwane is die vierde speler. Hy het op sy dag vir Tukkies in die Varsitybeker-reeks uitgedraf.

Nadat hy meestal in die wedstryde vroeër vanjaar oor die hoof gesien is, is daar op buitesenter plek vir Wandisile Similane en vorm hy en Odendaal, die vorige Bulle-kaptein, ’n nuwe kombinasie.

Vincent Tshituka, wat vroeg in die Superreeks beseer is, is ook weer fiks en speel die eerste keer saam met Kriel as die flankpaar.

Die Springbok-losvoorspeler Willem Alberts is beseer en nie oorweeg nie, terwyl nog ’n aanwins van die Bulle, die vaskopstut Wiehahn Herbst, ook nie fiks genoeg is nie. Dieselfde geld nog een van die lang lys oud-Bulle, die losvoorspeler Roelof Smit.

Van die Bok-stut Jannie du Plessis is daar ook geen teken in die groep wat aangekondig is nie. Dit bly ’n raaisel dat hy vanjaar, nadat hy hom vanaf sy Franse klub by die Leeus aangesluit het, nog maar baie min speelkans gekry het. Op navraag of hy beskikbaar was vir Saterdag se wedstryd, het ’n woordvoerder van die Leeus geantwoord: “Ja, ek glo so.”

Met Pieter Jansen, die gereelde haker vroeg in die seisoen wat intussen sy tasse gepak vir Rusland gepak het, is Jan-Henning Campher nou die haker op die plaasvervangersbank.

Campher het begin as haker in die laaste wedstryd teen die Blues, maar Visagie is nou bo hom verkies in die beginspan.

Leeus: Divan Russouw, Sibahle Maxwane, Wandisile Similane, Burger Odendaal, Courtnall Skosan, Elton Jantjies (k), André Warner, Hacjivah Dayimani, Vincent Tshituka, Jaco Kriel, Marvin Orie, Ruben Schoeman, Ruan Dreyer, Jaco Visagie, Dylan Smith. PLAASVERVANGERS: Sti Sithole, Jan-Henning Campher, Carlu Sadie, Wilhelm van der Sluys, Reinhard Nothnagel, MJ Pelser, Franckle Horn, Len Massyn, Dillon Smit, Gianni Lombard, Stean Pienaar, Dan Kriel, Manuel Rass, Jamba Ulengo, EW Viljoen.

Meer oor:  Swys De Bruin  |  Leeus  |  Altus Momberg  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.