Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
2018 kan taai jaar vir Bokke wees

Die Springbokke gaan vanjaar fisiek en sielkundig tot die uiterste toe beproef word met 13 van hul verwagte 14 toetse teen teenstanders wat onder die voorste agt rugbyspanne op die jongste wêreldranglys tel.

Gaan Rassie Erasmus nog so breed glimlag ná die Springbokke se taai 2018-seisoen? Foto: Gallo Images

Suid-Afrika se skedule begin waarskynlik al op 2 Junie met ’n kragmeting teen Wallis in die VSA – ’n week voor die eerste toets teen Engeland op Ellispark in Johannesburg. Daarna volg die tweede en derde toetse teen die Rose in onderskeidelik Bloemfontein en Kaapstad.

Dis vier toetse in vier naweke, met ’n lang heen-en-weer-reis vir die Wallis-toets. En boonop is vlugte in ekonomiese klas na die land van Donald Trump waarskynlik weer die Bokke se voorland, met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) wat hom nog in die knyptang van ’n geldkrisis bevind.

Ná die Engelse reeks breek die Rugbykampioenskap aan met toetse tuis en weg teen Nieu-Seeland, Australië en Argentinië.

Terwyl die besonderhede van die jaareindtoer nog nie amptelik bekendgemaak is nie, lyk dit of die Bokke in November teen Engeland, Frankryk en Skotland gaan speel. Daar is 'n sterk dat 'n vierde toets teen Wallis gespeel sal word.

Frankryk (9de) is die enigste van die Bokke se teenstanders wat nie onder die top-8 op die wêreldranglys tel nie.

Allister Coetzee nog die Bok-afrigter, maar die verwagting is dat hy en sy hoofluitenant, Matt Proudfoot, se kontrakte in die komende weke beëindig gaan word.

Soos sake tans staan, is Allister Coetzee nog die Bok-afrigter, maar die verwagting is dat hy en sy hoofluitenant, Matt Proudfoot, se kontrakte in die komende weke beëindig gaan word sodra daar tot ’n vergelyk gekom word oor hul skeidingspakkette. Die Bok-agterlynafrigter, Franco Smith, moet glo ook van Bloemfontein na Kaapstad verhuis indien hy sy pos wil behou.

’n Voortgesette verhouding tussen Coetzee en Saru is prakties onmoontlik ná sy brief waarin hy hulle van ’n sameswering beskuldig het om hom te laat misluk sodat Rassie Erasmus in sy plek aangestel kan word.

Erasmus sal uit hoofde van sy amp as Saru se direkteur van rugby vir die Bokke se wel en wee verantwoordelik wees.

Patrick Lambie (Gallo Images)

Hy is bekend daarvoor dat hy innoverend oor rugby dink en dit sal interessant wees om te sien watter kreatiewe plan hy in die mou gaan voer om seker te maak dat sy spelers verfris is vir dié vroeë uitdagings.

Indien Erasmus ervare Bokke soos Patrick Lambie (losskakel), Frans Steyn, Jan Serfontein (senters), Duane Vermeulen (agtsteman) en Francois Louw (flank) wil betrek, sal hulle waarskynlik nie vir die toets teen Wallis beskikbaar wees nie, aangesien dit buite Wêreldrugby se amptelike toetstydperk val.

Sou hy dus die leisels neem, sal ’n moontlike gebrek aan kontinuïteit een van die eerste groot uitdagings wees wat hy teen die wêreld se naasbeste span sal moet trotseer.

Meer oor:  Allister Coetzee  |  Rassie Erasmus  |  Suid-Afrika  |  Toetse  |  Seisoen  |  Springbokke  |  Afrigter  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.