Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
3 nuwe reëls in Reënboog-reeks beproef
Nigel Owens beslis vroeër vanjaar in ’n Pro14-wedstryd tussen die Dragons en die Scarlets dat die bal nie in die doelgebied geplaas is nie. Spanne sal in die komende Reënboogbeker-kompetisie sulke beslissings kan bevraagteken. Foto: Getty Images

Drie nuwe reëltoepassings sal op die proef gestel word wanneer die Reënboogbeker-reeks volgende naweek afskop, het die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) aangekondig.

Dit behels rooikaart-plaasvervangers, kapteins wat beslissings mag bevraagteken en inskoppe van die doellyn af.

Die organiseerders van die Pro14-kompetisie het die proeflopie voorgestel en daar word gehoop dat die “nuwe dinamika positiewe spel sal meebring”.

Dieselfde reëltoepassings word reeds in die Nieu-Seelandse Aotearoa-reeks en die Aussies se Superrugby-AU-kompetisie gebruik en Wêreldrugby moedig dit aan.

Alan Gilpin, uitvoerende hoof van Wêreldrugby, het Pro14 Rugby en die spanne wat aan die Reënboogbeker-kompetisie deelneem, geloof vir die entoesiasme waarmee hulle die proeflopie omarm.

“Die toevoeging van nog ’n topkompetisie wat die nuwe reëltoepassings gebruik, sal waardevolle data en terugvoer bied wat ons sal help met besluite wat vir die spel oorweeg word,” sê Gilpin.

David Jordan, toernooidirekteur van Pro14 Rugby, sê hul sport- en reëlskomitee was baie proaktief om “geleenthede te identifiseer” en hulle sien daarna uit om dit in die Reënboogbeker-reeks in werking te stel.

“Ons weet hierdie reëlveranderings se oorsprong lê by simposiums oor spelerwelstand en ons is oortuig dit sal ’n algehele positiewe impak op die spel hê.”

Die laaste drie rondes van die Reënboogbeker-kompetisie sal bevestig word sodra die nodige goedkeuring van die relevante regerings- en gesondheidsowerhede verkry is vir die Suid-Afrikaanse spanne om na Europa te vertrek.

Die reëltoepassings behels onder meer:

• Rooikaart-plaasvervangers:

’n Speler wat met ’n rooikaart gestraf word, sal vir ’n tydperk van 20 minute langs die kantlyn sit.

Die speler se span kan ná die tydperk ’n plaasvervanger in sy plek opstuur.

Die speler wat afgestuur is, sal nie weer kan speel nie.

Dit is ook van toepassing op spelers wat twee geelkaarte op die lyf loop (wat outomaties ’n rooikaart beteken).

• Die kaptein se appèl:

’n Proeflopie wat daarop gemik is om die akkuraatheid van beslissings verder te verbeter.

Elke span kan een beslissing van die skeidsregter in ’n wedstryd bevraagteken.

Dit sluit in wanneer drieë gedruk is en voorvalle van vuilspel. Enige beslissing in die laaste vyf minute van ’n wedstryd kan ook in oënskou geneem word.

Dié versoek sal na die TV-skeidsregter verwys word, wat na die voorval sal kyk en dan ’n aanbeveling maak.

• Die doellyn-inskop:

Wanneer ’n aanvallende span oor die doellyn is, maar die bal is nie gedruk nie, ’n aanslaan in die doelgebied (deur die aanvallende span) of wanneer die bal doodgedruk word ná ’n skop (deur die aanvallende span), loop dit uit op ’n inskop vanaf die doellyn.

Daar moet van die doellyn of enige plek in die doelgebied ingeskop word en dit moet sonder vertraging gedoen word.

Die bal moet minstens vyf meter trek en as dit nie gebeur nie, kan die ander span vra dat daar weer ingeskop word of kan ’n vyfmeter-skrum versoek. – Sportredaksie

Meer oor:  Rugby-Reëls  |  Reënboogbeker-Reeks  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.