Suid-Afrika se rugbyspelers sal voortaan mik om ’n 33-man Springbok-groep vir die Wêreldbeker-toernooi te haal, en nie 31 soos in die verlede die geval was nie.

Van 8 September tot 28 Oktober 2023 sal daar weer om die gesogte Webb Ellis-beker meegeding word. Foto: Getty Images
Dit kom nadat Wêreldrugby ’n rits stappe aangekondig het ter bevordering van spelerwelsyn in die volgende toernooi wat van 8 September tot 28 Oktober 2023 in Frankryk beslis gaan word. Aanvanklik was beplan dat die toernooi op 21 Oktober sou eindig.
Die stappe waarop besluit is, is:
• Alle spanne sal ’n minimum van vyf rusdae tussen groepwedstryde hê om met fisieke herstel en voorbereiding te help.
• Die groepfase gaan met ’n week verleng word om aan die vereiste van addisionele rus te kan voldoen.
• Toegelate groepe van 33 spelers om met die bestuur van groepe te help.
• Die reistogte wat spanne moet aanpak, sal so min en kort as moontlik wees.
Bernard Laporte, Wêreldrugby se ondervoorsitter, sê spelers se welsyn is boaan op die beheerliggaam se agenda.
“Die bykomende week gaan baie goed vir ons spelers se gesondheid wees. Dit sal hulle genoeg kans gee om tussen wedstryde te herstel en ook verseker dat die gehalte van die rugby op die hoogste moontlike standaard is,” sê hy.
“Deur die toegelate hoeveelheid spelers vir groepe van 31 tot 33 te verhoog, wys hoe toegewyd ons daartoe is om spelerwelsyn te verbeter.”
Die stappe is gedoen nadat die Rugby World Cup se direksie, Wêreldrugby se uitvoerende raad, die toernooi se beplanningskomitee en die International Rugby Players (die spelersvereniging) koppe bymekaargesit het.
Brian O’Driscoll, die voormalige Ierse senter wat die spelers in Rugby World Cup se direksie verteenwoordig, sê rugby het te fisiek en mededingend geraak dat wedstryde vinnig ná mekaar gespeel kan word.
“Alle spanne het dit moeilik gevind, veral die spanne sonder die diepte van die groot lande. Hierdie is ’n positiewe stap vir die spel en verdere bewys dat International Rugby Players en Wêreldrugby in belang van die spel saamwerk,” sê O’Driscoll.
• Die wedstrydprogram vir 2023 se WB-toernooi word Vrydag bekend gemaak.