Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
3de Haai-stryd in ’n ry gekanselleer
JJ van der Mescht (links) en Henco Venter van die Haaie tydens ’n kragmeting met die Bulle vroeër vanjaar in die voorbereidingsreeks. Foto: Gallo Images

Die nuus dat die Haaie se Curriebeker-wedstryd teen die Bulle nou ook gekanselleer is, het dié trotse provinsiale reeks, wat al vir langer as ’n eeu beslis word, opnuut in ’n krisis gedompel.

Die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) het in ’n verklaring bekend gemaak dat die Haaie en Bulle mekaar nie meer Woensdag in Durban sal pak nie. Die “kommer oor veiligheid in KwaZulu-Natal (KZN)” word as rede vir die besluit gegee.

Hoe erg die impak van dié besluit op die reeks is, word duidelik daarin weerspieël dat dit die Durbaniete se derde agtereenvolgende wedstryd is wat in die slag bly. Die Haaie se wedstryd verlede week teen die Pumas (16 Julie) en voor dit teen die Leeus (10 Julie) is ook gekanselleer.

Die wedstryd teen die Laevelders is afgelas weens die opstande en plundering wat vroeg verlede week in dele van KZN en Gauteng uitgebreek het. Maar die wedstryd teen die Johannesburgers is afgelas sodat die Haaie nog ’n keer teen die besoekende Britse en Ierse Leeus kon speel nadat Covid-19-gevalle die Bulle daarvan weerhou het om in dié toerwedstryd te speel.

Die Griekwas se Adré Smith rank hoog om ’n lynstaanbal te bemeester in ’n kragmeting in die Superrugby Unlocked-reeks in 2020 in Kimberley. Foto: Gallo Images

Wat die verdeling van punte vir die afgelaste wedstryd tussen die Haaie en Bulle betref, sê die verklaring dat ’n besluit later geneem sal word.

Vir die Haaie se vorige twee wedstryde wat nie plaasgevind het nie, het hulle vier punte vir elk verdien. Sou hulle nou weer vier punte kry, sal hulle boaan die punteleer wees.

Die geloofwaardigheid van vanjaar se Curriebeker kan inderdaad al hoe meer in twyfel getrek word, met spanne wat as’t ware omtrent links en regs punte op ’n skinkbord kry.

Dit sal die orde in ’n mate herstel indien die ringkoppe van die Bulle, Haaie en Saru kan ooreenkom om die wedstryd op ’n ander tyd te speel. Of daar plek op die kalender gevind kan word, is egter ’n ope vraag.

Intussen trek die Griekwas met ’n grootliks onveranderde span op na die Goudstad om die Leeus Woensdag daar aan te vat.

Scott Mathie, afrigter van die Poubloues, het slegs een verandering aan die beginspan aangebring wat twee weke gelede die Westelike Provinsie in Kaapstad geskok het.

Adré Smith sal in die plek van Mzwanele Zito op slot sak. Zito skuif af na die plaasvervangersbank.

Mathie sê die vurige Smith het onder meer danksy sy goeie lynstaanspel die beginspan gehaal.

“Dit is altyd goed om so min as moontlik veranderinge te maak. Ek dink kontinuïteit is belangrik,” sê Mathie.

“My boodskap aan die spelers is eenvoudig dat hulle moet voortgaan met die goeie werk. Dit gaan moeilik in Johannesburg wees, dit is ’n goeie Leeu-span, wat baie goed in die vaste fasette is.”

Griekwas: Ashlon Davids, Daniel Kasende, Jay-Cee Nel, Johnathan Francke, Eduan Keyter, George Whitehead, Stefan Ungerer, Ruan Steenkamp (k), Hanru Sirgel, Gideon van der Merwe, Cameron Lindsay, Adré Smith, Janu Botha, Janco Uys en Mox Mxoli. PLAASVERVANGERS (uit): HJ Luus, Andrew Beerwinkel, Andries Schutte, Mzwanele Zito, Sibabalo Qoma, Raegan Oranje, Tinus de Beer, Ederies Arendse, Andrew Kuhn, Jeandré Leonard en Theo Boshoff.

Meer oor:  Curriebeker-Reeks  |  Haaie  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.