Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
3de keer skeepsreg vir Dobson

Derde keer skeepsreg en ’n groot sug van verligting.

John Dobson is ’n verligte afrigter ná die Westelike Provinsie weer die Curriebeker verower het. Foto: Gallo Images

Dít is hoe John Dobson, afrigter van die Westelike Provinsie, sy span se verowering van die Curriebeker in ’n neutedop opsom.

In sy derde jaar in beheer van die Streeptruie het die voormalige Varsitybeker-breier dit uiteindelik reggekry om die mees gesogte trofee in Suid-Afrikaanse provinsiale rugby terug na die Kaap te bring.

In 2015 moes Dobson op Ellispark toekyk hoe die Goue Leeus sy span in die eindstryd stukkend speel en verlede jaar moes hy in die halfeindronde op Loftus Versfeld ’n nederlaag teen die Blou Bulle aanskou.

Vanjaar het sy span, ondanks wisselvalligheid in die ligafase, seker gemaak van die Goue Beker deur die Haaie met 33-21 in die eindstryd in Durban te klop.

“Die Curriebeker is deel van die Westelike Provinsie se DNS en daarom is ek so verlig dat ons die trofee kon wen,” het Dobson Woensdag by Nuweland gesê.

Hy en die WP-kaptein, Chris van Zyl, het pas van ’n besoek aan verskeie radiostasies en sakelui teruggekeer om ’n laaste keer met die media oor hul triomf op Kingspark te gesels.

“Ek weet nou nie of Chris met my gaan saamstem nie, maar ek dink ons almal het ’n sug van verligting geslaak toe die eindfluitjie blaas,” sê die 49-jarige breier.

“As ons Saterdag verloor het, sou ons gevoel het ons het niks bereik nie en die unie teleurgestel.

“Ek en Chris het vandag op ons besoek aan verskeie plekke nogmaals gesien hoe baie die Curriebeker vir die mense van Kaapstad beteken.”

Die Curriebeker is deel van die Westelike Provinsie se DNS en daarom is ek so verlig dat ons die trofee kon wen.
John Dobson

Dobson wil egter nie die krediet vir sy span se sukses aan homself toeëien nie.

“Daar is baie werk agter die skerms gedoen om te verseker dat die WP ’n goeie seisoen beleef.

“Julle mediamanne weet watter stormagtige jaar dit vir die unie was en ek dink Saterdag se sukses is ’n teken dat die WP se rugby nog gesond en op die regte koers is.

“Gaan kyk net na die ouderdom van sommige van die spelers wat vanjaar deurbrake op senior vlak gemaak het. Cobus Wiese en Damian Willemse is albei maar nog net 19 jaar oud.

“Ek is bevoorreg om in hierdie posisie te wees, want daar is verskeie mense in my lewe wat ek wou trots maak en ek hoop hulle is. Om die trofee te wen, beteken baie vir my.”

Dobson se droom was nog altyd om die WP af te rig en hy sê hy hoop hy kan aanhou om daardie droom uit te leef.

“Ek stel regtig nie belang in wat die Curriebeker-sukses vir my CV beteken nie,” het hy ’n vraag beantwoord oor wat in die toekoms vir hom voorlê.

“Hier by die WP het ons fantastiese mense in ons bestuurspanne. Die sukses van die span moet dus as ’n kollektiewe poging gesien word. My tegniese verantwoordelikhede was maar net ’n deel daarvan.”

Meer oor:  John Dobson  |  Wp  |  Curriebeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.