Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
4de keer skeepsreg vir Patria

Ná drie jaar se trane het die Patria-manskoshuis van die Pukke uiteindelik daarin geslaag om weer die Varsitybeker-koshuisliga te wen.

Die span van Potchefstroom het Vishuis van die Kovsies Maandag met 16-8 in die eindstryd in Stellenbosch geklop.

Patria se vreugde ken geen perke ná sy oorwinning Maandag in Stellenbosch. Foto: Varsity Cup

Vir Patria moet die oorwinning soet wees, aangesien hy die vorige drie jaar elke keer in die eindstryd teen die einste Vishuis vasgeval het. Die enigste vorige keer dat Patria die trofee gewen het, was in 2011.

Die Potchefstromers het Maandag se wedstryd vir alle praktiese doeleindes reeds in die eerste kwart beklink. Hulle was vinnig met 10-0 voor, danksy ’n drie deur die woelige slot Burger Minnaar.

Minnaar het ’n barshou gespeel en meer as een keer met die bal onder sy arm op lopies afgesit.

Vishuis, wat die titel al ses keer van 2008-2018 gewen het, het Patria maal sonder tal laat les opsê in die skrums. Boonop het die Bloemfonteiners besit in die tweede helfte oorheers. Hulle het gesukkel om dit in punte te omskep. Talle van die gulde kanse het weens swak aangeë verlore gegaan.

Vishuis se flank Nelius van Heerden was sy span se beste speler, nie net om omgekeerde besit te bewerkstellig nie, maar ook met die bal in die hand.

Maar gee krediet aan Patria, met sy kaptein, die losskakel Lodewyk Muller aan die spits. Dié span het soos besetenes teen die einde verdedig.

Puntemakers:

Patria 16 (13): Drie: Burger Minnaar. Doelskop: Danco Burger. Strafdoele: Burger (3).

Vishuis 8 (5): Drie: Steyn Grobler. Strafdoel: Dale de Wet.

Meer oor:  Varsitybeker
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.