Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
5 jong spelers sê au revoir en adeus vir SA

Vyf belowende Suid-Afrikaanse rugbyspelers, wat onlangs nog in die skoolbanke gesit het, is op pad oorsee om groener weivelde in onderskeidelik Frankryk en Portugal te gaan soek.

So het Rugby Travel bevestig met drie van die jong manne, Adolph Bothma, De-André du Preez en Eduan Roux, wat hul heil in Frankryk sal gaan soek, terwyl Werner Kruger en Jason Cornelius in Portugal kontrakte gesluit het.

Die vyf jong manne wat Suid-Afrika gaan groet om hul rugbyloopbane oorsee voort te sit. Van links na regs is: Werner Kruger, Adolph Bothma, Eduan Roux, Jason Cornelius en De-André du Preez.

“Al vyf hierdie spelers het in Februarie by die Rugby Travel-akademie in Pretoria aangesluit met die droom om ’n loopbaan in dié sport na te jaag,” sê Len Olivier, voorsitter van Rugby Travel.

“Ons glo Suid-Afrika het ongelooflike talent, met te min plek vir almal om gehuisves te word, terwyl daar oorsee baie meer geleenthede vir ons spelers is.”

Bothma het dalk nou nie vir die eerste span van Grey Kollege uitgedraf nie, maar dié gifangel in die middelveld vir hul tweede span, die Cherries, asook Du Preez, wat op slot vir Hoërskool Lichtenburg gerank het, het albei ’n kontrak van twee jaar met die Franse klubspan Aurillac onderteken. Aurillac speel in Frankryk se tweede liga.

Ander Suid-Afrikaners soos Nardus van der Walt, Peet van der Walt, Pieter-Steyn de Wet en Jacques Nel is tans deel van Aurillac se groep vir die 2020/’21-seisoen.

Waar skolerugby vanjaar moontlik iets van die verlede kan wees, glo ons dat dit hoop kan gee vir baie van die seuns.

“Adolph is ’n kranige binnesenter met goeie vaardighede en ’n werkverrigting wat uitstaan. De-André is weer op sy beurt ’n hemelbesem wat ongeveer 1,95 m in sy sokkies staan. Sy lengte sal sonder twyfel in sy guns tel in die lynstane.”

Eduan Roux, ’n vaskopstut en oudleerling van die Hoërskool Piet Retief, het ’n kontrak van drie jaar met die Franse span Vannes, tans een van die voorste klubs in die Franse tweede liga.

“Eduan het in gr. 11 vir die Pumas in die o.18-Cravenweek-toernooi as plaasvervanger opgekom en was baie ongelukkig om nie raakgesien te word nie, veral nadat Covid-19 verlede jaar omtrent alle rugby gestop het. Hy het ons gelukkig met sy loopbaan vertrou en ons kon sodoende vir hom die geleentheid oorsee kry wat hy verdien,” sê Olivier.

“Eduan is professioneel in alles wat hy doen. Hy staan nie terug vir die harde werk wat vereis word op en van die veld af nie en dan is sy dissipline ook iets wat geloof kan word.”

Werner Kruger van Affies op ’n stormlopie in 2019 teen Maritzburg College. Hy het pas ’n kontrak met die Portugese rugbyklub Benfica gesluit. Foto: Gallo Images

Werner Kruger, wat in 2019 op vaskopstut vir die Afrikaanse Hoër Seunskool (Affies) se eerste rugbyspan uitgedraf het en die haker Jason Cornelius, wat in 2018 aan die Hoërskool Nelspruit gematrikuleer het, het albei ’n kontrak met die Benfica-rugbyklub in Portugal gesluit.

Benfica, een van die land se oudste rugbyklubs, is deel van die Portugese amateurliga en is in Lissabon gesetel.

Kruger was in 2019 deel van die Blou Bulle se 15-tal by die o.18-Cravenweek-toernooi in Bloemfontein. Cornelius het op sy beurt die Pumas se o.19- en o.20-spanne in die plaaslike reeks verteenwoordig.

“Ons is baie opgewonde vir hulle twee, veral omdat hulle senior kontrakte geteken het en saam langs mekaar gaan sak in die skrum. Hulle gaan groot skade in Portugal maak aangesien albei van hulle ongelooflik sterk en fisiek is.”

Olivier sê dis deels Rugby Travel se doelwit om aan seuns te wys dat alles nie noodwendig verlore is, sou die skolerugbyseisoen nie weer vanjaar hervat nie.

“Waar skolerugby vanjaar moontlik iets van die verlede kan wees, glo ons dat dit hoop kan gee vir baie van die seuns – of hulle nou in ’n kleiner skool of ’n meer erkende rugbyskool is. Dit kan aan hulle wys dat daar steeds ’n stelsel soos ons s’n is waar die talent kan deurkom en raakgesien word, selfs al word daar dalk nie verder vanjaar rugby gespeel nie.”

Rugby Travel, wat primêr daarop fokus om vir jong rugbyspelers geleenthede oorsee te vind, het verlede jaar vir Eadin Layzell van St. Benedict’s College in Germiston, en Jooste Nel van die Hoërskool Montana in Pretoria kontrakte by die Franse klubspan Agen gekry. Albei dié seuns was toe in matriek.

Meer oor:  Werner Kruger  |  Portugal  |  Skolerugby  |  Frankryk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.