Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
6 seuns in sop oor steroïede by Cravenweek
Khalid GalantFoto: Argief

Ses skolerugbyspelers het in vanjaar se Cravenweek positief getoets vir steroïede.

Dit werp weer van voor af lig op die steroïede-vraagstuk in skole – wat so ’n groot probleem is dat die Suid-Afrikaanse Instituut vir Dwelmvrye Sport (Saids) in die toekoms met die Valke sal saamspan om dit te pak.

Volgens Khalid Galant, die uitvoerende hoof van Saids, is 122 spelers by vanjaar se Cravenweek, wat by die Hoër Jongenskool in die Paarl plaasgevind het, getoets. Ses seuns het positief getoets vir steroïede-mengsels.

Dis ’n skerp toename van verlede jaar, toe drie Cravenweek-spelers vir opkikker-oortredings vasgetrek is. In 2016 was daar vyf, in 2015 ses en in 2014 drie.

Galant het sy kommer oor die syfers uitgespreek.

Dit blyk ook die afrigters en ouers is nie te bekommerd daaroor nie aangesien die seuns speel om ’n beroepskontrak los te slaan.
Khalid Galant

“As ons kyk na Suid-Afrikaanse skolerugby in geheel sien ons nie ’n afwaartse kurwe met betrekking tot die getal seuns wat uitgevang word vir steroïede nie. Dit blyk ook die afrigters en ouers is nie te bekommerd daaroor nie aangesien die seuns speel om ’n beroepskontrak los te slaan,” het Galant by navraag aan Netwerk24 gesê.

Hy sê dis nie net die getal spelers wat positief toets wat kommerwekkend is nie, maar waarvoor die seuns positief toets.

Hy sê spelers gebruik op ’n jong ouderdom steroïede om spiermassa te bou. Hulle staak die praktyk sodra hulle die arena van beroepsrugby betree, aangesien toetsing dan gereelder plaasvind en hulle reeds hul ideale liggaamsmassa bereik het.

Dis ’n kwessie waarteen daar daadwerklik opgetree moet word, sê Galant.

“Ons sal in die toekoms baie nouer met die Valke saamwerk, aangesien hulle ’n gespesialiseerde eenheid het wat spesifiek die handel in steroïede in die visier het.

“Ons het in die verlede al volwasse atlete uitgevang – nie deur middel van toetse nie, maar weens hul betrokkenheid in die handel van steroïede.

Sommige van die kinders wat gevang word praat uit. Dikwels kry hulle die middels by ander kinders in die skool.
Khalid Galant

“Ons moet die vraag vir, aanbod van en verskaffing van dié middels aanpak. Sommige van die kinders wat gevang word praat uit. Dikwels kry hulle die middels by ander kinders in die skool.”

Galant bied ’n tweeledige verduideliking aan vir waarom die gebruik van steroïede toeneem.

“My teorie is op twee uitgangspunte gebaseer. In die eerste plek het ons ’n tekort aan goeie waardes in die huidige samelewing. Daar is ’n gebrek aan etiek en almal, die kinders ingesluit, kyk waarmee hulle kan wegkom.

“Aan die ander kant het ons gesien dat skolerugby uiters gewild en lonend geword het. Dit word regstreeks uitgesaai en daar is uitgebreide tydskrifprogramme daaroor op televisie. Die kinders is basies glanspersoonlikhede.”

Galant se boodskap aan ouers en kinders is dat hulle nie die ontwikkeling van vaardighede en die genot van sport uit die oog moet verloor nie.

“ ’n Mens moet sport speel vir die genot van die kompetisie en die vriendskapsbande wat gesmee word. Die gebruik van opkikkers doen afbreuk hieraan en verwoes boonop ’n mens se gesondheid.

“Om ’n Springbok te word moet jy nie net groot wees nie, maar vaardig ook. Ek word soos klokslag aan die begin van elke rugbyseisoen gekontak deur ouers wie se kinders deur afrigters aangesê is om groter te word as hulle hul onderskeie eerste spanne wil haal.”

’n Woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) sê hulle ondersteun Saids ten volle. Saru, die ses spelers en hul onderskeie provinsies is in kennis gestel van die opkikker-aanklagte.

Marno Redelinghuys voorheen in aksie vir die Maties. Foto: Gallo Images

“Daar is geen plek in rugby vir kul nie en dis presies wat die gebruik van verbode middels is. Dis net by ons jeugweke waar ons beste jong skolespelers getoets kan word,” het die woordvoerder gesê.

“Saru is in so ’n mate verbind tot die uitroei van die gebruik van verbode middels dat ons geld bestee daaraan om spelers op die jeugweke te toets en op te voed. Hulle moet vroeg in hul loopbane besef daar is geen wegkruipplek vir spelers wat verbode middels gebruik nie.”

* Intussen het dit ook aan die lig gekom dat Marno Redelinghuys, ’n losvoorspeler van die Maties en Westelike Provinsie, vir vier maande geskors is nadat hy positief getoets het vir kannabinoïede. Redelinghuys het ook voorheen vir die Luiperds en Pukke uitgedraf.

Meer oor:  Khalid Gelant  |  Kaapstad  |  Saru  |  Rugby  |  Cravenweek  |  Skolerugby  |  Steroïede
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.