Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Die einde? 65%-teiken sink Toetie
Saru kan hom in pad steek sonder uitbetaling

Allister Coetzee het klaar gefaal om aan sy vereiste slaagsyfer van 65% te voldoen en kan gevolglik sonder ’n goue handdruk as die Springbok-afrigter afgedank word.

Ongeag of die Springbokke die oorblywende toetse op hul Europese toer wen, dop Coetzee die slaagsyfer van 65% as prestasievereiste soos sy kontrak met die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) bepaal.

Allister Coetzee

Die prestasieklousule, waaraan hy tweejaarliks gemeet word, beteken dat dit Saru nie miljoene rande sal kos om van Coetzee ontslae te raak nie.

Vir Saru, wat onder groot finansiële druk is en nie kan bekostig om miljoene rande uit te betaal met die vroeë beëindiging van Coetzee se vierjaarkontrak nie, is dit ’n gemaklike uitkoms om sy afrigter te laat gaan.

Rapport se inligting is dat die Springbok-afrigter nie sy merietebeoordeling in Desember sal oorleef nie.

Sy suksessyfer sedert hy in 2016 as die Springbokke se breier aangestel is, is onder 50%, met geen vooruitsig dat hy teen die einde van die jaar by die vereiste 65% sal uitkom nie.

Met geld wat nie in Saru se pad staan om van sy Bok-afrigter ontslae te raak nie, kan slegs politieke ingryping hom nog red.

In Saru se topbestuur is daar ’n meerderheid wat Rassie Erasmus in volle beheer van die Springbokspan wil plaas.

Erasmus het juis dié week stil-stil na Suid-Afrika teruggekeer nadat hy sedert vroeg vanjaar by die Ierse klubspan Munster in beheer van afrigting was.

In sy 18 maande as Munster se hoofafrigter het Erasmus die beste wenrekord tot nog toe deur ’n afrigter in die geskiedenis van die Pro14-reeks behaal. Sy suksessyfer van 81% (21 oorwinnings uit 26 wedstryde) is selfs beter as die 75% van Joe Schmidt (die huidige Ierse afrigter) by Leinster.

Indien politieke druk én die bietjie steun wat hy in die topbestuur van Saru het Coetzee in Desember op wonderbaarlike wyse laat oorleef, sal Erasmus van volgende jaar af die grootste sê oor spankeuses én aanstellings in die Bok-bestuurspan hê.

Met Erasmus in beheer van sake, kan die Bok-bestuurspan aansienlik verklein word. Dit is ook in die kaarte dat Erasmus net van hulpafrigters gebruik sal maak sonder om ’n hoofafrigter onder hom aan te stel.

Name soos Jacques Nienaber, Pieter de Villiers en selfs Deon Davids en Barend Pieterse is al genoem as afrigters wat moontlik vorentoe betrek kan word. Erasmus glo egter in ’n klein bestuurspan.

Coetzee gaan nietemin veg om sy pos te behou.

’n Ingeligte het dié week aan Rapport gesê die wyse van die nederlaag in Dublin was Coetzee se “doodskoot” as Bok-afrigter, soos die geval met Heyneke ­Meyer in 2015 teen Japan in Brighton was.

Coetzee kom ook ál meer onder skoot oor sy spankeuses.

Dit het ingeligtes ook verbaas dat Coetzee nie besluit het om Erasmus reeds nou te betrek, eerder as om te wag om afgedank te word nie.

Die Bokke moet juis in hul oorblywende verpligtinge op toer sonder Johann van Graan en Brendan Venter klaarkom.

Van Graan gaan hom as hoof­afrigter by Munster aansluit, terwyl Venter na Suid-Afrika terugkeer. Hy sal die span in Italië ook nie die komende week bystaan nie. Dis nie net Coetzee wat onseker oor sy Bok-toekoms is nie. Sy bestuurspan wat almal tot 2019 gekontrakteer is, het, soos Coetzee, prestasieklousules in hul kontrakte.

Saru se uitvoerende komitee sal ook oor die res van die bestuurspan se lot in Desember besluit.

Meer oor:  Bokke  |  Springbokke  |  Saru  |  Allister Coetzee  |  Boktoer  |  Kontrak
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.