Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
7 rooikaarte: FFR ondersoek rassisme

Die Franse Rugbyfederasie (FFR) ondersoek aantygings van rassistiese uitlatings in ’n wedstryd wat sewe rooikaarte en drie geelkaarte opgelewer het.

Marvin Woki (links) sê hy was die slagoffer van rassisme. Foto: Skermgreep

Die derbywedstryd tussen Tarbes en Lannemezan in Frankryk se Federale 1-liga is as ’n boksgeveg met ’n bietjie rugby tussenin beskryf.

Die rugbygemeenskap was verlede week stomgeslaan nadat ’n skokkende bakleiery die kragmeting versuur het, met sewe spelers wat van die veld af gestuur is en aantygings van rassisme wat deur die Tarbes-slot Marvin Woki gemaak is.

RugbyDump berig Woki, die ouer broer van die Franse toetsspeler Cameron Woki, sê hy was die slagoffer van rassistiese uitlatings en gebare, sonder om die vermeende oortreder se naam te noem.

Woki sê die voorval het gebeur toe sy spanmaat en ’n teenstander die veld verlaat het nadat hulle vir 10 minute na die koelkas gestuur is.

“Hy het my rassisties beledig soos hy afgestap het deur kru, rassistiese terme te gebruik,” het Woki aan die Le Parisien-koerant gesê.

Hy beweer hy is vertel om “huis toe te gaan” en dat die woorde “vuil swart man” ook gebruik is.

Die wedstryd was in chaos gedompel toe die spanne kort ná die afskop in ’n bakleiery betrokke raak.

Sy broer Cameron het die voorval op Twitter veroordeel.

“Dit is ’n skande, ons soek nie hierdie soort ding in ons rugby nie.”

Die FFR sê hy duld nie rassisme nie en die aantygings word ondersoek.

Serge Simon, visepresident van die FFR, het in ’n Twiet aan Woki gesê: “Wees verseker @cameronwoki, ons het zero toleransie vir enige rassistiese woorde of dade.”

Die wedstryd op 15 Februarie is kort ná die afskop vir sewe minute gestaak toe spelers en bestuur van albei klubs betrokke geraak het in die geweld.

Albei afrigters is afgestuur en vyf spelers het rooikaarte gekry voordat die kragmeting met 13 teen 12 hervat is. Tarbes het uiteindelik met 36-3 geseëvier, hoewel die tuisspan die wedstryd met 12 spelers geëindig het en Lannemezan met 11 nadat nog twee rooikaarte later in die verrigtinge uitgedeel is.

– Sportredaksie

Meer oor:  Toetsrugby  |  Vuisgeveg  |  Superrugby  |  Bakleiery
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.