Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Pieter-Steph het in bad gebid om flank te jol

Vandat hy nat agter die ore was wou Pieter-Steph du Toit al die wêreld se voorste seweflank in die Springboktrui word.

Sy droom is eindelik ná die Wêreldbekertoernooi in Japan verwesenlik toe die 27-jarige boorling van Kaapstad deur Wêreldrugby as die Speler van die Jaar aangewys is.

Pieter Steph

“Ek wou van jongs af nie slot speel nie,” het Du Toit in ’n openhartige onderhoud aan Rapport gesê.

“Eintlik al van die eerste keer toe my onderwyser-afrigter gesê het ek moet slot speel, wou ek nie.

“Elke aand nadat my ma-hulle ons ná skooloefeninge kom oplaai het en ek teen my sin gedwing was om slot te speel, het ek in my bad – dit was nogal ’n lekker bad met ’n venster in die dak – gelê, by die venster uitgekyk en gebid en gewens dat ek nie slot speel nie.

“Ek het toe gehoop ek sou die beste seweflank ter wêreld vir die Bokke word. Dit was my grootste droom van daardie tyd af.

“Ek het probeer om seweflank te speel, maar dit het nie altyd goed uitgewerk nie. Ek is deur moeilike tye en het op sekere tye baie foute gemaak.

“Ek het baie uit daardie foute geleer. Die beste hoe jy uit foute leer, is om te erken dat jy daardie foute gemaak het.”

Van die moeilike tye waarna hy verwys was onder meer in 2015 toe hy op die laaste nippertjie deur Heyneke Meyer as seweflank in die beseerde Willem Alberts se plek vir die groepwedstryd teen Japan in Brighton gekies is.

In 2016 was Du Toit een van Allister Coetzee se flanke toe Engeland die Bokke 37-21 op Twickenham getrap het en Ben Youngs hom twee keer gepypkan het.

Du Toit sal ook nie vinnig van die Ierse toets in 2017 in Dublin vergeet nie toe die tuisspan die Bokke 38-3 afgeslag het terwyl hy die nommersewe-trui gedra het nie.

Ná al die roem en sukses van die afgelope tyd bly dié oudleerling van die Hoërskool Swartland in Malmesbury nog net so nederig soos voor hy op 9 November 2013 in Cardiff Springbok nommer 854 geword het.

“Dis vir my belangrik om nederig te bly. Dis hoe my ouers my grootgemaak het en volgens my geloof, aangesien ek in die Here glo.

Ek sal graag die Stormers wil help om hul rugby te kry waar die Bokke s’n is sodat ons die Superreeks kan wen.
Pieter-Steph du Toit

“Vir my gaan dit nie oor wat ek kry of wat ek verniet kry nie. Vir my gaan dit dat die belangrikste die belangrikste bly, dis om goeie rugby te speel. Ek is versot op rugby en geniet dit baie.

“Ek is baie dankbaar vir die geleenthede wat ek kry. Ek glo as ek al my aandag op rugby rig, sal die res in plek val. Ek fokus nie op dinge van die veld af nie.”

Baie van Du Toit se sukses op die veld is vanweë sy goeie ondersteuningsbasis van dit moontlik.

Sy pa, Pieter, ma, Annalene, en broers, Johan, Anton en Da­niel, vorm die kern van sy ondersteuningsbasis. Ook sy vrou, Willemien, ’n fisioterapeut saam met wie hy op hoërskool was en in Desember 2015 op Riebeek-Kasteel naby sy pa se wynplaas Kloovenburg getroud is, vorm ’n belangrike deel daarvan.

“Ek kan ook nie uitstaan sonder ons afrigters en die ander spelers nie. Dis ’n spansport.

“Ek wil egter nie mense uitsonder nie. Ek het by almal wat my al afgerig en gehelp het iets geleer.

“My ouers, broers en my vrou is die mense wat my die meeste ondersteun.

“My ma het my van kleins af byvoorbeeld van Riebeek-Kasteel na Stellenbosch vir atletiekoefeninge geneem.

“Ek is nog altyd dankbaar daarvoor en dít het ’n groot invloed op my lewe gehad.

“My vrou is die een wat my nou erg ondersteun. Sy is die een by wie ek kom kla. Ek het baie simpatie met haar.”

Oor ’n skuif oorsee sê hy: “Ek verkies die Kaap omdat dit naby my familie is. Ons is familievas en het goeie vriende hier. Dit beteken vir ons ongelooflik baie.

“Ons het ook ’n kleinding gekry en ons voel nie gereed om oorsee te gaan nie.

“Ek geniet my rugby in die Kaap. Ek sal graag die Stormers wil help om hul rugby te kry waar die Bokke s’n is sodat ons die Superreeks kan wen.”

Meer oor:  Pieter-Steph Du Toit
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.