Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
7 spanne spook sake in SA ‘Superreeks’ uit
Curriebeker-vreugde! Die Vrystaat-Cheetahs nadat hulle die Goue Leeus in die eindstryd van 2019 se kompetisie geklop het. Foto: Gallo Images

Twee trofeë sal op die spel wees vir die sewe plaaslike rugbyspanne wanneer die reekse waarin hulle slaags gaan wees op 10 Oktober begin.

Volgens ’n verklaring van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) sal spanne eers om die Superrugby “Unlocked”-trofee en daarna om die Curriebeker meeding.

Die spanne sal elkeen tuis en weg teen mekaar speel, met die eindstryd om die Curriebeker wat in Januarie beslis sal word.

In die eerste ronde (waarin elke span ses keer in aksie sal wees), wat tot 21 November sal duur, sal spanne dit om die “Unlocked”-trofee uitspook. Die span wat die meeste ligapunte ná dié ronde het, sal wegstap met die trofee.

Dit beteken dat die Cheetahs, Griekwas en Pumas, wat nie onder normale omstandighede in die Superreeks meeding nie, ook nou ’n kans staan om ’n “Supertrofee” te wen.

Dit beteken dat die Cheetahs, Griekwas en Pumas, wat nie onder normale omstandighede in die Superreeks meeding nie, ook nou ’n kans staan om ’n “Supertrofee” te wen. Hulle sal teen Suid-Afrika se Superrugby-spanne, die Bulle, Haaie, Leeus en Stormers, te staan kom.

Al die punte wat spanne in die eerste ronde ingesamel het, sal wel oorgedra word na die twee ronde, wat van 28 November tot 9 Januarie sal duur. Die vier spanne wat dan die meeste ligapunte het, kwalifiseer vir die halfeindronde wat op 16 Januarie beslis sal word.

Die wenner van die eindstryd, wat ’n week later beslis word, sal dan as die Curriebeker-kampioen gekroon word. Die Vrystaat-Cheetahs was in 2019 baas in dié plaaslike kompetisie.

Die besluit om as’t ware twee kompetisies te hê, is waarskynlik geneem om borge tegemoet te kom, nadat geen rugby weens die Covid-19-pandemie sedert Maart in Suid-Afrika beslis kon word nie. Daar is byvoorbeeld spanne wat verskillende borge in die Super- en Curriebeker-reeks het – en die besluit sal beteken dat al die borge blootstelling en waarde vir hul belegging kry.

Daar is vroeër die week aangekondig dat die plaaslike seisoen op 26 September sal hervat wanneer die vier plaaslike Superspanne mekaar in vertoonwedstryde op Loftus Versfeld in Pretoria sal pak. Die Stormers sal die Leeus die stryd aansê en die Bulle sal met die Haaie kragte meet.

Die Westelike Provinsie se Seabelo Senatla (links) en Dan Kriel deel ’n oomblik gedurende ’n Curriebeker-wedstryd in 2019 op Nuweland. Foto: Gallo Images

'n Week daarna sal nie-amptelike Springbok-proewe op Nuweland gehou word. Dit sal in die gedaante van ’n feeswedstryd tussen “Groen” en “Goud” plaasvind. Die room van Suid-Afrika se plaaslike spelers sal vir dié twee spanne gekies word en hulle sal onderskeidelik deur Deon Davids en Mzwandile Stick (albei Bok-hulpafrigters) gebrei word.

“Ons is baie dankbaar vir die wonderlike samewerking wat ons van borge, ons uitsaaivennoot, die unies en ander belanghebbendes gekry het, sodat ons ’n punt kan bereik waar ons daarna kan begin uitsien om weer rugby oor naweke te hê,” sê Jurie Roux, Saru se uitvoerende hoof, volgens die verklaring.

“Die impak van die pandemie op die seisoen was ongelooflik en ons moes met uitsonderlike oplossings vorendag kom om die Superrugby-seisoen te voltooi en ’n Curriebeker te laat plaasvind. Ons glo dit is die beste oplossing vir almal wat betrokke is.”

• Daar sal ook ’n plaaslike o.21-reeks tussen die Goue Leeus, Blou Bulle, Westelike Provinsie, Vrystaat en die Haaie beslis word. Die Luiperds, wat gewoonlik deel van dié reeks is, sal nie vanjaar verteenwoordig word nie.

Meer oor:  Jurie Roux  |  Suid-Afrika  |  Toetse  |  Curriebekerreeks  |  Saru  |  Rugby  |  Superreeks
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.