Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
90% van SA spelers wil oorsee gaan

Altesame nege uit tien beroepsrugbyspelers in Suid-Afrika sal in die volgende twee jaar ’n oorsese kontrak onderteken of oorweeg om dit te doen.

Dít is een van bevindings in ’n verslag ná ’n meningsopname wat MyPlayers, die spelersorganisasie vir beroepspelers in Suid-Afrikaanse rugby, in 2019 gedoen het.

Ek sal kan doen met ’n miljoen . . . of 20. Handré Pollard speel deesdae vir Montpellier in Frankryk waar hy glo ’n vergoedingspakket van sowat R20 miljoen per seisoen verdien. SA spelers het in ’n meningsopname te kenne gegee dat geld die grootste trekpleister is om oorsee te gaan speel. Foto: Getty Images

Dit is uit die verslag wat MyPlayers die afgelope week uitgereik het, duidelik dat geld die vernaamste rede vir die deurlopende uittog van spelers na oorsese klubs is.

’n “Superrugby-veteraan” wat aan die meningsopname deelgeneem het, het gesê hy het in twee seisoene in Frankryk meer geld verdien as in sewe vorige seisoene in Suid-Afrika.

Stewige salarisse in Europa en Japan is heel boaan die lys, met 51% van die respondente wat aangedui het hulle wil vir die geld oorsee gaan speel, terwyl die politieke situasie in die land (18%) en transformasie (9%) onderskeidelik tweede en vierde op die lys is.

Altesame 75% van die spelers glo hulle moet toegelaat word om vir ander lande toetsrugby te speel en 87% het gesê hulle sal dit oorweeg, sou hulle vir ander lande kwalifiseer.

'n “Superrugby-veteraan” wat aan die meningsopname deelgeneem het, het gesê hy het in twee seisoene in Frankryk meer geld verdien as in sewe vorige seisoene in Suid-Afrika.

MyPlayers het verlede seisoen ’n aanlyn vraelys aan beroepspelers gestuur, met alle data wat anoniem in die verslag vervat is.

Daar is bykomend ook onderhoude met verskeie senior franchise-spelers, Springbokke en Blitsbokke gevoer, wat 163 toetse, 162 internasionale sewestoernooie, 833 Superrugby-wedstryde en 274 wedstryde vir oorsese klubs tussen hulle het.

Verskeie onderwerpe soos kompetisies, geriewe, afrigters, hul geestelike welstand en toekomstige kompetisies is aangeraak.

Dit bied ’n interessante blik op van die griewe wat plaaslike spelers het.

Die meeste spelers het aangedui hulle is ontevrede met die “algemene neiging” van kontrakte wat vir net twee jaar aangebied word.

Van die Springbokke het gesê dat die franchises dikwels tot op die laaste minuut wag om kontrakte te finaliseer, wat stres en spanning veroorsaak.

Ander spelers het bygevoeg dat beter kommunikasie ’n verskil sal maak in hul besluitneming.

Die meeste spelers het aangedui hulle is ontevrede met die “algemene neiging” van kontrakte wat vir net twee jaar aangebied word.

Die kollig word ook in die verslag op spelers se fisieke en geestelike welstand geplaas.

Altesame 65% van die respondente het al harsingskudding opgedoen en 49% van die spelers het gesê hulle is bekommerd oor die nagevolge daarvan.

Agt uit tien (met ’n gemiddelde ouderdom van 26) het gesê hulle is bekommerd oor die impak wat rugby in die toekoms op hul fisieke welstand kan hê.

Een van die spelers het gesê daar is ’n algemene opvatting dat mediese personeel en afrigters “baie ernstig” is oor harsingskudding, maar dat spelers hulle nie veel steur aan die impak wat dit op hul geestelike en fisieke welstand kan hê nie.

“Die spelers wil nie glo dat harsingskudding ’n groot kwessie is nie. Van hulle het al ’n gebreekte enkel of ernstige kniebeserings ervaar, maar harsingskudding is nie tasbaar nie,” het die speler gesê.

Daar word in die verslag toegegee dat geestesgesondheidsprobleme “ ’n groot probleem in Suid-Afrikaanse rugby is”, maar dat dit weens ’n cowboys don’t cry-mentaliteit taboe is om daaroor te praat.

Al die spelers het erken dat hulle aan angstigheid ly – weens verskeie redes soos beserings, swak vertonings, verhoudings wat skipbreuk gely het, egskeidings en onsekerheid oor kontrakte.

’n Speler wat Superrugby speel, het gesê: “Maandae is die ergste. Dit kan genadeloos wees, veral nadat die span verloor het. Jy wroeg daarmee dat jy jou afrigter en die publiek in die steek gelaat het.

'n Speler wat Superrugby speel, het gesê: “Maandae is die ergste. Dit kan genadeloos wees, veral nadat die span verloor het. Jy wroeg daarmee dat jy jou afrigter en die publiek in die steek gelaat het.

“Wanneer prestasie in ’n korporatiewe omgewing gemeet en beoordeel word, is dit dikwels ’n passiewe, subtiele ervaring twee keer ’n jaar, terwyl ’n rugbyspeler dit week ná week het.

“Ons grap baie keer daaroor, maar baie spelers ly aan angstigheid,” was sy terugvoer.

Vier uit tien van die spelers het bevestig dat hulle ’n sielkundige afwyking het, terwyl een derde aangedui het hulle ly aan slapeloosheid (waarvan 5% erken het hulle is verslaaf aan slaapmiddels).

’n Ander interessante bevinding is dat spelers ontevrede is oor die stand van die Curriebeker-kompetisie.

Ondanks dít, is die spelers “oorweldigend positief en selfs sentimenteel” oor die moontlikhede wat die kompetisie kan inhou.

Altesame 77% van die respondente sal wil sien dat Curriebeker-rugby se gloriejare van weleer herleef.

Die meeste spelers beskou Superrugby as ’n uitstekende kompetisie vanweë die verskillende uitdagings wat die Nieu-Seelandse, Australiese en Argentynse (Jaguares) spanne bied.

Sommige Superrugby-spelers en Bokke het egter wel aangedui hulle sal baie graag in die Pro14-reeks wou speel.

Meer oor:  Oorsee  |  Superrugby  |  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.