Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Small se stryd teen ‘Goliat’ onthou

Dit is Woensdag presies 25 jaar sedert daardie beroemde dag op Ellispark toe die Springbokke die Wêreldbeker-eindstryd op senutergende wyse teen die All Blacks beklink het. Christo Buchner het destyds oor dié toernooi verslag gedoen en onthou veral hoe die stryd tussen James Small en Jonah Lomu die publiek se verbeelding aangegryp het.

James Small werp alles in die stryd om Jonah Lomu in die eindstryd van die Wêreldbeker-toernooi op Ellispark in 1995 te stuit.Foto: Getty Images

Stop Lomu.

Dít was die wekroep van die hele Suid-Afrika in die aanloop tot die eindstryd op 24 Junie 1995.

Hierdie beer van ’n All Black was die vonds van die toernooi, veral nadat hy Engeland in die halfeindronde verinneweer en vier drieë gedruk het om sy totaal in die toernooi na sewe op te skuif.

In daardie wedstryd het Lomu die Engelse heelagter Mike Catt soos ’n muis laat lyk wat ’n olifant probeer stuit toe hy in stoomrollerstyl oor hom gehardloop en hom onderweg na een van sy vierkuns soos ’n vrot vel deur die lug laat trek het.

Asof die eindstryd op Ellispark nie al genoeg byt sou hê nie, het die veldtog wat geloods is en as “Stop Lomu” gestalte gekry het, die land op hol gehad.

Sommige koerante het bladsye daaraan afgestaan. Lesers kon hul menings instuur oor hoe hulle dink Lomu gestuit kon word.

Terwyl hy as die Goliat van die eindstryd uitgebeeld is, was die kleine David teenoor hom die Bok-vleuel en sy direkte teenstander, James Small.

Dawid en Goliat. James Small gee Jonah Lomu ’n woord van vertroosting nadat die Bokke in die eindstryd met die All Blacks afgereken het.Foto: Getty Images

Vandag is nie een van hierdie twee hoofkarakters van daardie ’95-eindstryd meer met ons nie, maar die liplekkerstryd wat tussen hulle opgebou het, sal vir altyd in die gedagtes voortleef.

Small is uitgebeeld as hierdie mannetjie wat as’t ware met sy slingervel gaan probeer om die magtige Lomu te probeer stuit.

Dat hy dit wel reggekry het en Lomu se slagtande en daarmee ook die All Blacks s’n getrek het, was naas die Joel Stransky-skepdoel een van die uitstaande hoofstukke in die eindstryd-verhaal.

Small het Lomu in ’n stadium aan die kraag beetgekry en hom met ’n intense uitdrukking van inspanning op sy gesig grond toe gebring.

Die All Blacks, wat drieë as ’n stokperdjie in daardie Wêreldbeker gedruk het, kon in die eindstryd nie een keer agter die Bokke se doellyn kuier nie en daardie rotsvaste verdediging was een van die hoofbestanddele in die oorwinningskoek wat die Bokke gebak het.

’n Rukkie voordat Lomu in 2015 aan ’n ernstige nierkwaal gesterf het, het dié twee saamgekuier en met smaak daardie eindstryd herleef.

Lomu was vol lof vir hoe Small (wat verlede jaar aan ’n hartaanval gesterf het) en sy Bokmaats hom in daardie eindstryd aan bande gelê het. Soms het tot drie Bokke op hom toegesak wanneer hy in besit gestel is.

In sy hele toetsloopbaan teen die Springbokke kon Lomu nie ’n enkele drie teen die draers van die Groen-en-goud druk nie.

Die “Stop Lomu”-veldtog was ’n reuse-sukses, hoewel daar nog steeds bitterbekke in Kiwiland is wat tot vandag toe sweer dat sensasionele Suzie se doepa die eintlike rede is waarom die streepsuiker daardie dag die oorheersende smaak in Nieu-Seelandse monde was.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.