Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Alle paaie lei nie meer na Loftus Versfeld
Jacques du Plessis op die aanval teen Griekwas, met die blou van ’n magdom leë stoele in die agtergrond. Foto: Christiaan Kotze
​Toeskouers

Bywoning by Currie­beker-liga­wed­stryde:

WP 79 029

Leeus 57 432

Haaie 57 417

OP-Kings 53 570

Blou Bulle 47 135

Vrystaat 37 764

Pumas 24 924

Griekwas 11 200

* ’n Bykomende 74 362 toeskouers het die halfeind- en eindstryd op Nuweland bygewoon.

Daar is gedurende vanjaar se Curriebeker-rugbyreeks by Loftus Versfeld gespot dat ondersteuners van die Blou Bulle met ’n wegbly-aksie protes aanteken teen hul span se gesukkel in die kompetisie.

As jy die aansienlike daling in vanjaar se bywoningsyfer in ag neem, kom jy tot die slotsom dit was dalk meer as bekkige praatjies.

Die Blou Bulle Rugbyunie (BBRU) het in sy jaarverslag vir 2013 aangedui altesame 63 382 ondersteuners het die Bulle se vyf tuiswedstryde in die reeks bygewoon.

Vanjaar se syfer is, volgens statistieke op die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) se webblad, 47 135 – ’n noemenswaardige daling van 25,6%.

Bywoningsyfers by Curriebeker-kragmetings is landwyd ’n dilemma, maar die ondersteuning was die seisoen veral in Pretoria skraps.

Wat die besluitnemers by Loftus onrustig sal laat, is die feit dat die Bulle in 2013 ’n vrot seisoen gehad het, maar steeds meer toeskouers gelok het.

Volgens Saru was die 13 716 toeskouers wat op 20 September vir die Bulle se wedstryd teen die Haaie opgedaag het, die grootste Curriebeker-skare op Loftus.

Die groot stryd teen die aartsvyand, die Westelike Provinsie, het 11 608 ondersteuners gelok – minder as die 16 326 van die ooreenstemmende wedstryd in 2013.

Toe die OP-Kings die Bulle vanjaar op 23 Augustus die stryd aangesê het, het net 5 219 ondersteuners deur Loftus se hekke beweeg.

Loftus het plek vir net meer as 50 000 ondersteuners.

Dat wenrugby stadions volpak, is geen nuwe openbaring nie en dít is vanjaar op Nuweland onderstreep.

Daar het byvoorbeeld 26 744 ondersteuners na die WP se heiligdom opgeruk om te kyk hoe die Streeptruie se sogenaamde “B-span” die Haaie pak – toe die WP reeds seker was van ’n tuishalfeindstryd.

Dat minder as 25 000 toeskouers (24 924) die Pumas se vyf tuiswedstryde in die Mbombela-stadion bygewoon het, is onrusbarend en is stof tot nadenke vir Saru.

Die ander “kleintjie” in die reeks, die sukkelende OP-Kings, het veel meer steun gehad en 53 570 toeskouers het die vyf kragmetings in die Baai bygewoon – selfs meer as op Loftus Versfeld.

Barend van Graan, die Blou Bulle Maatskappy (BBM) se uitvoerende hoof, het aangedui hy sal Donderdag kommentaar lewer oor Loftus se bywoningsyfer.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.