Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Arende sal weer hoog vlieg, glo Fortuin
Die SWD-skrumskakel Dwayne Kelly is Kings toe. Foto: Gallo Images

PORT ELIZABETH. – Hy glo die SWD-Arende sal gou weer op die wenpad kom, het hul hoofafrigter, Bevin Fortuin, gesê.

Die Arende het ná ’n goeie Vodacombeker-rugbyreeks, waarin hulle die kwarteindronde gehaal het, in die kwalifiserende ronde vir die Curriebeker se Premier­liga die kluts kwytgeraak.

Lees ook: Scarra ​ginnegaap terwyl Kaap brand

“Dit was ’n geval van die span wat die wedstrydplan nie behoorlik uitgevoer het nie,” het Fortuin gesê. “Ons het ’n hele paar wedstryde in die kwalifiserende ronde ook in die laaste klompie minute verloor.”

Fortuin het bygevoeg dat beserings ook ’n rol gespeel het, maar hy het dit nie as die grootste rede vir die gesukkel aangevoer nie.

Dit was vir hom ’n skok dat die Arende laaste op die puntelys geëindig het.

Griekwas speel nou in die Premierliga nadat hulle die kwalifiserende ronde gewen het.

Die ses spanne wat sake in die Eerste Liga gaan uitspook, behou die punte wat hulle in die kwalifiserende ronde versamel het.

Daarvolgens is die Luiperds (25) nou die voorlopers, gevolg deur die Valke (14), die Boland (13), die Griffons (11), die Grens (10) en die Arende (8).

“Ja, ons is nou onder, maar ons kan vir die uitspeelwedstryde kwalifiseer as ons genoeg wedstryde wen,” het Fortuin gesê.

Elke span in die Eerste Liga speel vyf wedstryde, waarna die halfeindronde plaasvind.

Fortuin het gesê sy span het nie oornag swak geword nie. “Dis grootliks dieselfde groep spelers wat in die Vodacombeker-reeks oortuigend met die OP-Kings afgereken het.”

Die Arende het hul skrumskakel Dwayne Kelly aan die Kings afgestaan en leen hul haker Ma­rius Fourie aan die WP.

Ongelukkig vir die Arende begin hul Eersteliga-veldtog op die moeilikste noot moontlik – in Potchefstroom teen die Luiperds.

Eersteliga-program: 29 Augustus: Luiperds t. SWD-Arende; Griffons t. Boland; Valke t. Grens. 5 September: SWD-Arende t. Valke; Boland t. Luiperds; Grens t. Griffons. 12de: Luiperds t. Griffons; Grens t. SWD-Arende; Valke t. Boland. 19de: Luiperds t. Grens; Boland t. SWD-Arende; Griffons t. Valke. 26ste: SWD-Arende t. Griffons; Grens t. Boland; Valke t. Luiperds.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.