Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Arende stel breiers vry om vlerke te sprei
Bevin Fortuin
Anton Leonard

KAAPSTAD. – Die SWD-Arende soek ’n nuwe hoofafrigter.

Bevin Fortuin, die Arende se vorige rugbyafrigter, is vroeër van sy kontrak vrygestel om ’n afrigterspos by die Blou Bulle te beklee.

Sy kontrak sou eers in Mei volgende jaar verstryk het.

Anton Leonard, Fortuin se hulpafrigter, het ook volgens Johan Prinsloo, die uitvoerende hoof van die SWD-Arende, ’n pos by die Bulle aanvaar.

“Ons het die hoofafrigterspos geadverteer en aansoeke sluit op die 15de (November),” het Prinsloo gister aan Die Burger gesê.

“Daar is tans mense wat waarneem met die spelers wat hul fiksheid in die afseisoen betref, maar ons beoog om in Januarie ’n aanstelling te maak.”

Darryl Coeries, ’n gewese speler van die SWD, neem tans waar as afrigter.

Fortuin is in 2012 as die Arende se breier aangestel en dít het destyds wyd reaksie ontlok omdat dit ten koste van die meer ervare Abrie Minnie was.

Die voormalige Springbok-heelagter het egter met Anton Leonard as sy assistent die Arende weer op die wenpad begin kry.

“Bevin is ’n jong afrigter met baie potensiaal. ’n Geleentheid soos dié vir hom en Anton kan net tot voordeel van enige jong afrigter wees. As hulle jou raaksien en vra om betrokke te raak, dan is dit ’n geleentheid om vir jou ’n kontrak te beding,” het Prinsloo gesê.

“Ons staan nie in die pad van mense nie. Dis dieselfde met spelers. Ons staan ook nie in die pad van hulle om Curriebeker- of Varsitybeker-rugby te speel nie. Dis ’n goeie geleentheid en terselfdertyd ontwikkel jy die spelers.”

Die Suid-Kapenaars het vanjaar tweede in die Curriebeker-reeks se Eerste Liga geëindig nadat hulle in die eindstryd teen die Luiperds verloor het.

Fortuin is ’n boorling van die Suid-Kaap en die unie is voornemens om ook binne sy strukture vir ’n moontlike opvolger te kyk.

Volgens Prinsloo was hulle baie tevrede met die goeie vertoning wat die SWD-span onder Fortuin en Leonard gelewer het.

Met die toekoms van die Curriebeker-formaat wat nog uitgepluis moet word, weet die SWD dat hy die bes geskikte afrigter moet kry om die span op daardie vlak mededingend te maak.

Rynhardt van As, die SWD se spanbestuurder, se pos sal ook eersdaags geadverteer word, terwyl die SWD ook ’n nuwe fisioterapeut soek.

Prinsloo se termyn sal ook volgende jaar tot ’n einde loop, maar hy sal aanbly totdat ’n geskikte kandidaat gevind is.

Meer oor:  Rugby
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.