SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Rugby
Blitse kan Hawies Fourie geskenk gee
Griekwas pak WP in eerste CB-stryd
Die Suid-Afrikaanse sewesspeler Sandile Ngcobo kan Vrydag sy buiging vir Griekwas teen die Westelike Provinsie in die Curriebeker-reeks maak. Hy is een van die tuisspan se plaasvervangers. Foto: Emile Hendricks

BLOEMFONTEIN. ­– Kan die insluiting van twee Suid-Afrikaanse sewesspelers in die Griekwas-rugbyspan vir sy afrigter, Hawies Fourie, ’n laat verjaardagpersent teen die Westelike Provinsie tot gevolg hê?

Dit is die groot vraag nadat twee blitse, Ruhan Nel en Sandile Ngcobo, albei deur Fourie betrek is vir die Poubloues se eerste Curriebeker-wedstryd van 2015, Vrydag tuis op Griekwapark in Kimberley.

Die veelsydige Nel, wat senter, vleuel en heelagter kan speel, is sommer met die intrapslag in die beginspan ingesluit, met Ngcobo wat van die plaasvervangerbank af ’n impak kan maak.

Nel het al dikwels vir die Blitsbokke uitgedraf, terwyl Ngcobo die kaptein van die Suid-Afrikaanse Akademie-sewesspan is. Ngcobo word ook as ’n toekomstige Blitsbok beskou.

Albei het hulle eers die afgelope Maandag in die Diamantstad aangemeld.

“Ruhan en Stix (Ngcobo) se fiksheid is nou maar eenmaal op ’n ander vlak as die ander manne.

“Hulle hardloop vir ’n lewe. Hul betrokkenheid sal vir ons baie werd wees.

“Ruhan begin op senter, want ons het bloot geen ander senters nie.

“Manne soos PJ Vermeulen, JW Jonker en Johnathan Francke is beseer, terwyl Wayne Stevens nie meer rugby speel nie.

“Ons kort dus ernstig diepte en dit is wat hulle die volgende drie maande aan Griekwas kan verskaf,” het Fourie, wat Woensdag sy 47ste verjaardag gevier het, gesê.

Die Griekwas-breier sal hoop die nuwelinge help om ’n kersie op sy verjaardagkoek te sit, aangesien verskeie ander staatmakers soos die flank Hilton Lobberts en senter Clinton Swart steeds op die krukkelys is en nie teen die WP kan diens doen nie.

Die slotte Jonathan Adendorf en Jaco Nepgen, wat beseer was, is wel deel van die 22-tal nadat hulle Woensdag fiks verklaar is.

Adendorf en Hugo Kloppers vorm ’n slotpaar, met Nepgen op die bank.

 Intussen het Fourie bevestig dat die klipharde Griekwas-agtsteman Carel Greeff, wat Vrydag teen die Streeptruie agter die oond sak, ’n kontrak van twee jaar met die Oostelike Provinsie-Kings onderteken het.

Greeff, wat ook vir die Cheetahs Super-rugby gespeel het, is nog in vanjaar se Curriebeker-reeks vir die Poubloues beskikbaar, maar sal hom van 1 November af in die Baai vestig.

Hy is die derde staatmaker wat die afgelope ruk sy skuif vanuit Kimberley bekendgemaak het.

Die ander twee is die losskakel Francois Brummer en losvoorspeler Nardus van der Walt wat hulle albei in 2016 by die Pumas gaan aansluit.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.