SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Rugby
VIERDE staatmaker groet Griekwas
Boela word Vrystater
Die Griekwas-slot Boela Serfontein het reeds vanjaar sy Super-buiging vir die Cheetahs gemaak. Foto: Emile Hendricks

BLOEMFONTEIN. – Die Vrystaat het sy slot-diepte aangevul deur die Griekwas-yster Boela Serfontein vir volgende seisoen te kontrakteer.

Arni van Rooyen, Griekwas se uitvoerende hoof, het bevestig dat Serfontein hom van 1 November af in die Rosestad sal aanmeld. 

Hy is die vierde speler die afgelope ruk wie se skuif weg van die Poubloues bekendgemaak is, met die flank Marnus Schoeman (Pumas), stut Maks van Dyk (Oostelike Provinsie) en haker Ryno Barnes (Vrystaat) wat ook volgende jaar hul rugby elders sal speel.

Van Dyk se situasie is uniek, aangesien hy by die Kings gekontrakteer is, maar volgende jaar vir die Cheetahs in die Superrugby-reeks beskikbaar is. 

Barnes sal ook deur die Cheetahs betrek word, maar Serfontein behoort eers vir die Curriebeker-reeks werklik by die Vrystaat in die tel te wees.

Hy sal daar met gesoute slotte soos Francois Uys, Lood de Jager, Carl Wegner en in ’n mindere mate Oupa Mohoje om deelname moet meeding.

De Jager en Mohoje is reeds tans by die Springbokke betrokke vir die huidige Rugbykampioenskap. Mohoje behoort egter meer as losvoorspeler ingespan te word.

“Boela het in ons Curriebeker-wedstryd teen die Vrystaat in Bloemfontein sy kruisligamente geskeur. 

Hy sal eers hier van April af weer kan oefen,” het Griekwas se afrigter, Hawies Fourie, bevestig.

Met ’n yster soos Ligtoring Landman wat na afloop van die Superrugby-reeks na Newport in Wallis weg is, sal Griekwas sekerlik elders na nog ’n slot of twee gaan soek. 

Indien daar wel ’n geskikte kandidaat gevind word, sal hy agter strydrosse soos Hilton Lobberts, Jaco Nepgen en Hugo Kloppers in die ry moet staan. Dan kan Stefan Greeff ook steeds deur die Poubloues gebruik word.

Intussen is Griekwas kliphard aan die slyp vir hul kragmeting die naweek teen die Westelike Provinsie op Nuweland. 

Die Poubloues het goeie momentum agter die blad nadat hulle Saterdag die Pumas in Kimberley geklop het vir hul tweede agtereenvolgende nederlaag in die reeks.

“Ons kan die WP op Nuweland verras. Ons het verlede jaar met net ses punte daar verloor en dit sal lekker wees as ons in die Kaap kan opslae maak,” het Fourie bygevoeg.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.