Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Kirchner en lambie sal voet takties inlê
Bokke gaan meer skop
Pat Lambie sal Saterdag teen Argentinië ’n sleutelrol speel op losskakel, veral omdat daar meer klem op taktiese skopwerk sal wees. Foto: Gallo Images

Umhlanga. – Ná drie agtereenvolgende nederlae in die Rugbykampioenskap is ’n meer taktiese skopbenadering die Springbokke se voorland.

Die insluiting van die heelagter Zane Kirchner en die losskakel Pat Lambie strook daarom met Heyneke Meyer se plan dat sy Bok-span Saterdag in Buenos Aires teen Argentinië baie meer kan skop as wat die geval in die Rugbykampioenskap was.

“Ons moet herbesin of ons drieë wil druk of rugby wil speel. Ons was in twee toere na Europa onoorwonne met ’n meer taktiese benadering,” het Meyer gesê.

Lees ook: ‘Transformasie mo​et van onder na bo geskied’

“Ek het dalk (in die Rugbykampioenskap) op die verkeerde taktiek besluit dat ons drieë moes druk, hoewel die ondersteuners tevrede met ons aanvallende spel was.

“Maar ek het nou besef dit gaan net oor wen.” Meyer het gesê die Bokke het in ses toetse teen die All Blacks minder as die Kiwi’s geskop. Die Bokke het ook Saterdag in die Haaitenk net sewe keer teen die Poemas geskop, maar is steeds oortuigend geklop.

“Maak nie saak wat jy doen nie, jy gaan gekritiseer word. Jy moet dan karakter toon en volhard waarin jy glo.”

Oor Kirchner se insluiting op heelagter, het Meyer gesê: “Naas myself is Zane waarskynlik die persoon in Suid-Afrika wat die meeste kritiek verduur.

Lees ook: Div: ‘Daar is st​eeds baie rassisme in rugby’

“Met Morné (Steyn) op losskakel en Zane op heelagter het ons egter ’n 80%-wenpersentasie gehad.

“Toe wou almal gehad het Pollie (Handré Pollard) moet speel, druk hy ’n drie teen die All Blacks en almal sê hy is briljant.

“Dieselfde ondersteuners het hom nou op Kingspark uitgejou. Moet egter nie ’n fout begaan nie, ek het steeds baie vertroue in Pollie.”

Meyer het gesê hy wou Steyn en Lambie verlede week teen Argentinië in die beginspan gekies het, maar weens die wendruk het hy besluit om eerder met dieselfde span te volhard.

“Dis ’n groot jammerte dat Morné nie vandeesweek (vanweë die geboorte van sy tweede kind) beskikbaar is nie.”

Meyer het gesê met Willie le Roux (enkel) wat beseer is, moes hy ook ’n heelagter soos Kirchner kies wat veilig onder die hoë hangskoppe is.

“Zane was nog altyd baie goed vir ons.”

 Die slot Victor Matfield sal die kapteinskap vir die naweek se toets by die beseerde Jean de Villiers (kakebeen) oorneem.

Matfield, Kirchner, Lambie, die vleuel Lwazi Mvovo, flank Willem Alberts, stut Marcel van der Merwe, haker Adriaan Strauss en stut Trevor Nyakane is ná die Durbanse verloortoets in die Bokke se beginspan ingesluit.

Die senter Jan Serfontein en haker Schalk Brits is ook die eerste keer dié seisoen vir ’n 23-tal van die Bokke gekies.

Die slot Lood de Jager (borsspier) en stut Vincent Koch (knie) is volgens Meyer in Dinsdag se oefening beseer en kan nie oorweeg word nie.

 Die Bok-afrigter het ook Woensdag besluit dat die haker Bismarck du Plessis, stut Steven Kitshoff, flank Siya Kolisi, skrumskakel Rudy Paige en losskakel Elton Jantjies saam na Buenos Aires sal vlieg.

■ Springbokke: (Aantal toetse in hakies)

Zane Kirchner (29), Lwazi Mvovo (12), Jesse Kriel (3), Damian de Allende (6), Bryan Habana (109), Pat Lambie (43), Ruan Pienaar (83), Schalk Burger (78), Willem Alberts (32), Heinrich Brüssow (22), Victor Matfield (k, 122), Eben Etzebeth (36), Marcel van der Merwe (6), Adriaan Strauss (47), Trevor Nyakane (15). PLAASVERVANGERS: Schalk Brits (7), Tendai Mtawarira (67), Frans Malherbe (5), Flip van der Merwe (36), Pieter-Steph du Toit (3), Cobus Reinach (9), Handré Pollard (12), Jan Serfontein (20).

Heyneke bekommerd oor Jean

Jean de Villiers | Foto: Getty Images

Die Springbok-afrigter, Heyneke Meyer, het Woensdag in Umhlanga op sy span se nuuskonferensie erken hy is baie bekommerd oor Jean de Villiers se beskikbaarheid vir die Wêreldbeker-rugbytoernooi.

Die Bok-kaptein en -buitesenter het sy kakebeen in die verloortoets van 25-37 teen Argentinië in Durban beseer.

Hy het Maandag ’n Durbanse spesialis besoek wat bevestig het dat hy vier tot ses weke langs die kantlyn kan wees.

“Ek voel werklik jammer vir Jean. Hy weet dat hy ’n span moet lei, maar is terselfdertyd baie bekommerd oor sy eie vertonings. Ek is baie bekommerd oor Jean,” het Meyer gesê.

Hoewel sy aandag slegs op Saterdag se toets in Buenos Aires teen Argentinië gevestig is, is dit in sy agterkop dat baie van sy sterre soos De Villiers slegs ’n 50-50-kans het om in die Wêreldbeker te speel, aldus die Bok-afrigter.

“Jean oefen hard. Ons moet dit dag vir dag vat, soos die geval ook met ander is, en eers later ’n besluit daaroor (Jean en die ander beseerdes) neem.”

Meyer beplan om sy finale Wêreldbeker-groep van 31 spelers op 28 Augustus hier aan te kondig.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.