Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Cheetahs gaps nog ’n ster van die Kings
Devin Oosthuizen

Die Cheetahs het hul losvoorspeler-diepte vir 2015 met ’n tweede aanwins uit Port Elizabeth aangevul.

Die blondekop-flank Devin Oosthuizen, wat verlede jaar vir die Southern Kings Super-rugby gespeel het, sal hom binnekort hier aansluit.

Naka Drotské, die Cheetahs se Super-afrigter, het Dinsdag aan Volksblad bevestig Oosthuizen het ’n kontrak tot einde 2015 onderteken. Hy sal dus beskikbaar wees om Super-rugby vir die Cheetahs en Curriebeker-rugby vir die Vrystaat te speel.

Die 26-jarige Oosthuizen is die Cheetahs se tweede nuwe losvoorspeler nadat Willie Britz (Leeus) ook hier sal uitdraf.

Oosthuizen sal hom saam met die Kings-vleuel Sergeal Petersen by Drotské se groep aanmeld. Die Jong Bokkie het reeds vroeër ’n Cheetahs-kontrak gesluit.

Dan sal die vaskop Maks van Dyk hom vanaf Griekwas by die Kings aansluit, maar steeds vir die Cheetahs in 2015 se Super-reeks beskikbaar wees.

Oosthuizen en Britz moet die leemte vul wat Lappies Labuschagné (Blou Bulle) en Philip van der Walt (Biarritz) se vertrek gelaat het.

Britz en Oosthuizen sal met losvoorspelers soos Boom Prinsloo, Heinrich Brüssow, Oupa Mohoje en Jean Cook om speelkans meeding, terwyl Griekwas se Hilton Lobberts en Carel Greeff ook vanjaar Super-rugby vir die Cheetahs gespeel het.

Hoewel hy ook agtsteman kan speel, sal Drotské Oosthuizen hoofsaaklik as flank oorweeg.

“Ons het vir Lappies en Philip verloor, wat twee groot terugslae is,” het die afrigter gesê.

“Daarom moet ’n ou aanvul en dit gaan oor diepte. Met Willie wat ook kom, is hulle (Britz en Oosthuizen) die twee ouens wat ons ingekry het.”

Hy meen met Van der Walt se vertrek moet die Cheetahs ’n fisieke speler soos Oosthuizen bykry.

Die Kings-flank kan reeds Saterdag in Kimberley begin aanspraak maak op ’n Super-plek wanneer hy in ’n Curriebeker-wedstryd teen die Poubloues se Greeff te staan kom.

Die voormalige leerling van HTS John Vorster in Pretoria het ná skool vir Tukkies Varsitybeker-rugby gespeel en vir die Blou Bulle op Cravenweek-, o.19-, o.21- en Vodacombeker-vlak uitgedraf.

Hy het hom daarna by die Kings aangesluit.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.