Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Clinton Swart gedy in ‘nuwe posisie’
Skopvoet het WP laat sweet op Nuweland
Clinton Swart Foto: Carl Fourie/Gallo Images

BLOEMFONTEIN. – Die man wat die Westelike Provinsie en sy ondersteuners Saterdag tot diep in die wedstryd laat sweet het, het onthul dat dit sy eerste wedstryd op Nuweland was.

Clinton Swart, senter van Griekwas, het die Poubloues met sy akkurate stelskopwerk so op die uur die voortou met 15-13 teen die Streeptruie laat neem.

Hy was met vyf van ses strafskappe in die kol voordat die tuisspan tot verhaal gekom het om met 33-15 op Nuweland te wen.

“Dit was my eerste wedstryd op Nuweland in die Kaap en dit was nogal ’n groot uitdaging, maar ek het op die einde van die dag goed geskop,” het Swart gesê.

Ntabeni Dukisa, wat nie in die Moederstad in aksie was nie, het in van die vorige wedstryde Griekwas se stelskopwerk behartig.

Swart, wat verlede seisoen losskakel vir die Valke onder die wakende oog van die Springbok-losskakel Jannie de Beer gespeel het, het gesê hy is gemaklik op senter, hoewel hy ook van losskakel hou.

“Ek voel tans ek speel van my beste rugby in die posisie en dit pla my glad nie dat dit nie op losskakel is nie.”

Hy het vroeër sy kontrak met die Poubloues tot einde 2017 verleng.

“Ek dink die feit dat ek tot einde 2017 by Griekwas geteken het, wys dat ek werklik gelukkig is.

“Ek kry genoeg speelkans hier en dit beteken goeie blootstelling. Dit is tog wat ’n mens wil hê by jou groter unies,” het Swart gesê.

Indien hy op sy huidige spelpeil voortbou, lyk sy droom om eendag Super-rugby te speel nie te vergesog nie.

Intussen kom die Poubloues – steeds op soek na ’n eerste sege in die Curriebeker-reeks – Saterdag in Kimberley teen ’n omgekrapte Pumas-span te staan, wat volgens Swart nog ’n uitdagende wedstryd beloof.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.