Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Curriebeker-reeks
Jake se Bloutrein het g’n brieke!
So brul ’n Bul-span! Arno Botha (links) en Marcell Coetzee spog gisteraand met die Curriebeker-trofee, wat hulle vir die tweede keer vanjaar op ’n drafstap verower het. Die Pretorianers het die Haaie ’n behoorlike drag slae van 44-10 in die eindstryd toegedien. Foto: Gallo Images

Bulle-ondersteuners kan juig oor hul span se tweede Curriebeker-triomf van die jaar. Jake White en sy hulp-afrigters kan breëbors staan oor wat hul span vermag het. En les bes, die Bulle-spelers het gisteraand die reg verwerf om die vonkelwynproppe tot laatnag te laat skiet deur die Haaie met 44-10 in die eindstryd om die Goue Koppie te oorrompel.

Maar kan die Curriebeker saam jubel? Helaas, nee. Die kompetisie is daarvoor te gehawend, eintlik half pê.

’n Eindstryd om die Goue Beker is veronderstel om iets ysliks te wees. Genadeloos hard, spannend en vol drama. Gister s’n op Loftus Versfeld was eenrigtingverkeer, kuikenmoord. Maar genadiglik ook aanskoulik, al was die Haaie al voor rustyd die kalkoen wat nie Krismis sou sien nie.

Dat die Bulle uit en uit verdien het om voggies uit die beker te drink, kan niemand betwis nie. Hulle was klinies en het ses drieë ingeryg – vier deur hul agterspelers en twee danksy die brute krag van die voorspelers.

Die Pretorianers kan ook kop omhoog loop oor hul uitstekende spel onder hangskoppe.

Hoewel daar tye was dat die Haaie goed veld gewen het met die bal onder die arm, het hulle hulself ook telkens in die voet geskiet deur skuins te hardloop op soek na ’n gaatjie in die Bulle se verdedigingslinie.

Daarmee het hulle reg in die Bulle se hande gespeel, met die tuisspan wat hope duikslae agter die voordeellyn kon maak.

Dis veral daardie besluiteloosheid op die aanval wat die Haaie in die eerste helfte in die stert gebyt het. Hulle het geleenthede gehad, danksy hope besit en gebiedsvoordeel, maar hulle kon dit nie benut nie.

In die afwesigheid van Johan Goosen het Chris Smith manjifieke werk van die skopkegel af verrig en 14 van sy span se 44 punte aangeteken. Foto: Gallo Images

Dan het rolskoppe op kritieke, aanvallende oomblikke ook pal die Haaie-aanvalle stomp gelaat.

Daarteenoor het die Bulle vir twee van hul drieë met gemak die Durbaniete se middelveld-verdediging deurboor. Eers het die Loftus-binnesenter, Harold Vorster, met die Haaie-vleuel Thaakir Abrahams op sy rug, gaan druk toe Ward, sy regstreekse teenstander, ná ’n lynstaan gegly het en die gaping soos ’n swaaiende kroegdeur voor die Bul oopgegaan het.

Vir die tweede vyfpunter, byna presies dieselfde as die eerste een, het Vorster ’n aangee na sy sentermaat, Lionel Mapoe, uitgegee met Mapoe, wat deur ’n gaping in die Haaie-middelveld is en Abrahams as laaste verdediger geklop het om te gaan druk.

Al was dié twee drieë gerieflik die skouspelagtigste van die aand, sal Mapoe en Vorster vir die hele pak Bulle-voorspelers ’n bier of vyf vir die volgende week of twee moet koop. Dis daardie monster-voorspelers van die Curriebeker-kampioen wat die grondslag vir die sege gelê het.

Die agsteman, Elrich Louw, was, soos deurentyd in die kompetisie, ’n reus – op die verdediging, vastelos en ook as balgapser by die losskrums.

Hy is puik ondersteun deur sy flank-kaptein, Marcell Coetzee, en Arno Botha. Coetzee is self met ’n oorbars-drie beloon en hy was so byna in die tweede hefte oor vir ’n tweede vyfpunter, maar ’n aanslaan het dit verhoed.

Dan sou dit vir die Bulle-afrigters ’n riem onder die hart wees om te sien hoe Janko Swanepoel en sy slotmaat, Ruan Nortjé, die Haaie se lynstaanbesit bederf het. Dit sou hulle wel nie sonder hul voorry-ondersteuning kon doen nie.

Die Haaie het vroeg gedreig om met rolmale die oorhand te kry, maar dié wapen het die Bulle se vaste vyf sommer gou gestuit.

Die Bok-stut Thomas du Toit kon ná ’n rare Bulle-fout by ’n lynstaan op hul doellyn die Haaie se enigste vyfpunter druk, maar selfs toe die kampioene hul voet van die versneller-pedaal gehaal het, kon die besoekers nie veel uitrig nie.

Uiteindelik was dit ’n vertoning wat hulle so gou as moontlik sal wil afskryf en hul fokus na die Verenigde Rugbykampioenskap skuif.

Puntemakers: Bulle 44 (19): Drieë: Harold Vorster, Lionel Mapoe, Marcell Coetzee, Janko Swanepoel, Zak Burger, Cornal Hendricks. Doelskoppe: Chris Smith (4). Strafdoele: Smith (2).

Haaie 10 (3): Drie: Thomas du Toit. Doelskop: Curwin Bosch. Strafdoel: Bosch.   

Meer oor:  Haaie  |  Bulle  |  Curriebeker-Eindstryd
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.