Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Curriebeker
Ierland se Ulster krap in Bulle se slaai
CAPE TOWN, SOUTH AFRICA - AUGUST 02: Duane Vermeu
Die Ierse klubspan Ulster vry na Duane Vermeulen. Foto: Gallo Images

Die Ierse klubspan Ulster staan nou voor in die tou om Duane Vermeulen vir ’n tweede keer uit Suid-Afrika oorsee te laat trek.

Ulster krap nou in die Bulle se slaai met hul gevryery na die ster-agtsteman van die Bulle nadat die Bulle onlangs die kookwater-losvoorspeler Marcell Coetzee by die Ierse klub “gegaps” het.

Ulster se skielike belangstelling in Vermeulen maak dit vir die Springbok nie meer so ’n eenvoudige besluit om sy kontrak by die Bulle te verleng nie.

Die 35-jarige agtsteman se kontrak met die Bulle het op 31 Augustus verstryk. Sedertdien het hy hom nog nie aan ’n span verbind nie, alhoewel daar sprake was dat hy moontlik Japan as ’n nuwe rugbytuiste kan kies nadat hy tussen 2018 en 2020 daar vir Frans Ludeke se Kubota Spears gespeel het. Hy was ook tussen 2015 en 2018 by Toulon in Frankryk.

Vermeulen het egter ’n ommeswaai gemaak in verband met sy toekomsplanne as Bok nadat hy weens ’n besering nie in die reeks teen die Britse en Ierse Leeus kon speel nie. Hy het glo met Rassie Erasmus en Jacques Nienaber se aanmoediging verlede week besluit om deel te probeer wees van die Springbokspan vir 2023 se Wêreldbeker-toernooi.

Dié wending het daartoe gelei dat die Bulle verlede week met die Vermeulen-kamp begin onderhandel het om sy kontrak te verleng. Selfs SA Rugby het vir Vermeulen ’n nuwe kontrak begin opstel.

Rapport verneem die Bulle bly positief dat Vermeulen Loftus as sy werkplek sal kies. Ulster se verskyning op die toneel kan egter sake vir die Bulle veel moeiliker maak.

“Dalk wil Ulster die Bulle nou terugkry vir Marcell,” het een ingeligte teenoor Rapport geskerts.

Coetzee het Ulster van 2016 tot vroeër vanjaar verteenwoordig, voordat die Bulle hom oorreed het om vroeër as wat hy beplan het, na Suid-Afrika en Pretoria terug te keer.

Dit sal vir die Bulle ’n groot slag wees as Vermeulen besluit om eerder vir Ulster (of ’n ander span) te gaan speel. Hy is ’n speler van onskatbare waarde danksy sy bydrae op en van die speelveld, sy ervaring, leierskap, fisieke teenwoordigheid en goeie spel.

As Vermeulen wel besluit om by Ulster te teken, sal hy eersdaags teen sy gewese spanmaats in die Verenigde Rugbykampioenskap te staan kom.

Die Bulle kan wel breed glimlag daaroor dat hulle die afgelope week daarin geslaag het om ’n kontrak met die breker-haker Bismarck du Plessis te sluit.

Die Pretorianers het Vrydag bevestig dat hulle ’n tweejaarkontrak met die 37-jarige Du Plessis gesluit het. Sy taak sal wees om as speler én mentor die jonger hakers en stutte op Loftus Vers­feld te help verbeter.

Meer oor:  Kontrak  |  Ulster  |  Duane Vermeulen  |  Bulle
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.