Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
AU REVOIR:
Duane Vermeulen glo ook op pad Frankryk toe
Duane Vermeulen

Kaapstad. – Dit lyk soos au revoir, Duane Vermeulen, nadat die wêreld se voorste agtsteman ’n kontrakaanbod van die Suid-Afrikaanse Rugbyunie (Saru) van die hand gewys het.

Ingeligte bronne het gesê dat Vermeulen die hoogs besoldigde speler in Suid-Afrika sou wees indien hy die aanbod aanvaar het.

Sy besluit gee egter verdere gestalte aan gerugte dat hy ’n kontrak met die Franse klub Toulon gesluit het. Vermeulen het berigte daaroor vroeg vanjaar as bespiegeling afgemaak.

Twee gesaghebbende Franse bronne was dit Woensdag eens dat Vermeulen hom by Toulon gaan aansluit.

Hy is in die laaste jaar van sy kontrak met die Westelike Provinsie en sy kontrak met Saru verstryk op 31 Desember.

Vir Suid-Afrikaanse rugby is dit ’n yslike terugslag gegewe dat Vermeulen die logiese kandidaat is om Jean de Villiers as kaptein op te volg.

Indien hy vir Toulon speel, sal hy nie die Bokke kan aanvoer nie.

Lees ook:

Bulle se aan​val soos ’n seer duim

Daar’s weer​ skop in Morné Steyn se rugby

Jong Bokke: Eerste do​el bereik

Die situasie rakende Vermeulen is die jongste verwikkeling in ’n skrikwekkende uittog van Suid-Afrikaanse rugbyspelers na die Noordelike Halfrond.

Daar is óók verneem dat die Stormers-senter Damian de Allende later vanjaar in Japan gaan speel.

Die Groot Uittog:

Bulle

■ Jacques du Plessis (Frankryk, Montpellier)

■ Francois Hougaard (Japan, Canon Eagles)

■ Wiaan Liebenberg (Frankryk, Montpellier)

* Pierre Spies (Japan, onbekend; Frankryk, Montpellier?)

* JJ Engelbrecht (Japan, onbekend)

* Deon Stegmann (Japan, onbekend)

* Flip van der Merwe (Clermont, Frankryk)

Cheetahs

■ Heinrich Brüssow (Japan, NTT Docomo)

■ Jean Cook (Italië, Zebre)

■ Willie le Roux (Japan, Canon Eagles)

■ Sarel Pretorius (Wallis, Newport Gwent Dragons)

■ Willie Britz (Japan, Shining Arcs)

Haaie

■ Willem Alberts (Frankryk, Stade Français)

■ Tim Swiel (Engeland, Harlequins) Cameron Wright (Frankryk, Montpellier)

* Lourens Adriaanse (Frankryk, Toulouse)

* Bismarck du Plessis (Montpellier)

* Jannie du Plessis (Montpellier)

* Frans Steyn (Japan, Toshiba Brave Lupus; Frankryk, Montpellier?)

Stormers

■ Demetri Catrakilis (Frankryk, Montpellier)

■ Pat Howard (Engeland, Northampton Saints)

■ Steven Kitshoff (Frankryk, Bordeaux Bègles)

■ Michael Rhodes (Engeland, Saracens)

■ Duane Vermeulen (Frankryk, Toulon)

■ Damian de Allende (Japan, onbekend)

Leeus

■ Schalk van der Merwe (Frankryk, Montpellier)

■ Elton Jantjies (Japan, Shining Arcs)

* Nog nie bevestig nie 

Die lig aan die einde van die tonnel is egter dat hy sal terugkeer vir die Stormers se Superrugby-veldtog.

Terwyl dit nog onduidelik is vir watter klub De Allende gaan speel, sal dit net sin maak indien hy Allister Coetzee, die Stormers se afrigter, na die Kobe Kobelco Steelers volg.

Die Canon-Eagles in Japan het intussen óók die Bok-agterspelers Willie le Roux en Francois Hougaard gekontrakteer.

Le Roux gaan hom ná drie maande in die Ooste by die Haaie aansluit.

Hougaard sal na verwagting óók na die Bulle terugkeer.

Vir Suid-Afrika is sulke skuiwe Japan toe ’n kleiner kopseer as dié na Europa.

Dit beteken minstens sy spelersbasis in die Super-reeks word nie verder afgewater nie, maar óók dat sleutelspelers bitter min ruskans kry.

Frankryk berokken Suid-Afrikaanse rugby verreweg die meeste skade met etlike hoëprofiel- en belowende spelers wat Suid-Afrika die rug gaan toekeer.

Pierre Spies, die Bulle se agtsteman en kaptein, is saam met die begaafde veelsydige agterspeler Frans Steyn glo op pad na Montpellier.

Die slot Flip van der Merwe en losvoorspeler Willem Alberts se skuiwe na onderskeidelik Clermont en Stade Français word as ’n gegewe beskou.

Toulon se miljardêr-eienaar, Mourad Boudjellal, het egter skynbaar tou opgegooi in sy pogings om die ysterslot Eben Etzebeth by die WP weg te rokkel.

Etzebeth is tot aanstaande jaar in die Kaap gekontrakteer.

’n Ander Bok-skuif wat in Frankryk voorspel word, is die Haaie-skrumanker Lourens Adriaanse na Toulouse.

Die Haaie se Du Plessis-broers, Jannie en Bismarck, gaan waarskynlik óók hul tasse pak, maar berigte dat hulle met Montpellier ’n kontrak gesluit het, is voortydig.

Montpellier, wat deur die voormalige Bok-afrigter Jake White afgerig word, het die laaste ruk die Bulle-flanke Jacques du Plessis en Wiaan Liebenberg, die Haaie-skrumskakel Cameron Wright, die Stormers-losskakel Demetri Catrakilis en die Leeus-loskopstut Schalk van der Merwe opgeraap.

Die Stormers-loskopstut Steven Kitshoff se besluit om vir die Bordeaux Bègles te gaan speel, het Suid-Afrikaanse rugby óók geruk.

Saru wou nie Woensdag oor die Vermeulen-kwessie kommentaar lewer nie.

■ Intussen is Andries Bekker se Bok-toekoms nou in die hande van sy Japanse klub, die Kobe Kobelco Steelers.

Hy het glo ’n “goeie gesprek” met die Bok-afrigter, Heyneke Meyer, gehad, maar gaan die situasie met sy klub uitklaar.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.