Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Engledow toets Griekwas se reserwekrag

Die haas onbekende span wat Griekwas se Vodacombeker-afrigter, Peter Engledow, bekend gemaak het vir Saterdag se voorseisoense losmaker teen Sishen-klub, is nie omdat die Poubloues se voorstes vanjaar elders groener weivelde gevind het nie.

Diepte was nog altyd die Noord-Kapenaars se grootste probleem en juis daarom het Engledow besluit daar is geen beter tyd nie as die hede om te bepaal presies hoe die Poubloues se plaasvervangers daar uitsien.

Met heelparty spelers tans by die Cheetahs se Super-span betrokke en verskeie ander beseer, het die afrigter die kans gebruik om verskeie nuwe- en jongelinge speelkans te gee.

“Ons gaan die wedstryd gebruik om van die jonger en nuwe manne kans te gee. Ons praat altyd oor diepte en juis daarom wil ons seker maak ons het genoeg daarvan. Soos dit gebruik geraak het vir hierdie soort van wedstryde is dit ook moontlik om dit as proewe te gebruik.

“Baie van die ouens is nuut in die sisteme en ons wil graag sien waartoe hulle in staat is,” het Engledow oor sy span se kragmeting in Kathu gesê.

Griekwas:

Jacquin Jansen, Rocco Jansen, PJ Vermeulen, Jacques van Staden, Ntabeni Dukisa, Clinton Swart, Poerie van Rooyen, Jonathan Janse van Rensburg, RJ Liebenberg, Wendell Wehr, Hugo Kloppers (k), Steph Malan, Doctor Booysen, AJ le Roux, Wiseman Kamanga. PLAASVERVANGERS: Luxulo Koza, Sidney Tobias, Xhama Hina,Stephan Kotze, Kerron van Vuuren, Jovan Cookson, Dean Grant, Wayne Stevens,Ederies Arendse, Gouws Prinsloo.

Bekendes soos Steph Roberts (stut), Jaco Nepgen (slot), Stephan Greeff (slot), Leon Karemaker (agtsteman), Jonathan Francke (senter) en Burger Schoeman (flank) kry ruskans, terwyl meer ervare manne soos Wayne Stevens (senter) en Gouws Prinsloo (heelagter) hulle op die plaasvervangerbank bevind. Die slot Hugo Kloppers is as kaptein vir die wedstryd aangewys.

“Ons het nog nie op ’n kaptein vir die Vodacombeker-reeks besluit nie. Dit is iets waaraan ons later sal aandag gee. Vir eers lei Hugo die span op die veld teen die manne van Sishen,” het Engledow afgesluit.

Sishen se hulpafrigter, Regardt Dreyer, het op sy beurt bevestig dat die tuisspan ’n groot groep van hul spelers teen die Poubloues gaan inspan.

■ Afskop: 16:00.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.