SWART-VRYDAG-AANBOD! Betaal slegs R9,99 vir die eerste twee maande as jy nou ’n intekenaar word. Spring gou!
Rugby
Franco Smith wys sy kaarte

Bloemfontein. – Franco Smith het die eerste van sy Curriebeker-kaarte gewys met die kontrak wat hy met die Haaie-losskakel Fred Zeilinga gesluit het.

Die 22-jarige Zeilinga word reeds voor die Curriebeker-reeks ’n Cheetah en sal ook vir Super-rugby beskikbaar wees.

Smith, wat onlangs as die Cheetahs se Curriebeker- en Super-afrigter aangestel is, het die laaste tyd sy huiswerk agter die skerms gedoen wat die diepte van sy spelerskorps betref.

Hy vat reeds Sondag die Super-leisels by Naka Drotské oor, wat Saterdag op Nuweland in die Cheetahs se kragmeting met die Stormers die laaste keer in beheer van sake is.

Ironies het Drotské byna vroeër daarin geslaag om Zeilinga hierheen te lok.

Dié aanwins kan om twee redes as ’n belangrike slag deur Smith vir die Cheetahs beskou word.

Eerstens is losskakels van gehalte dun gesaai in Suid-Afrika, met generaals soos Johan Goosen (Racing Métro), Morné Steyn (Stade Français) en Demetri Catrakilis (Stormers, Montpellier) wat oorsese kontrakte het.

Die res van die plaaslike losskakels is reeds deur ander unies gekontrakteer en onbeskikbaar.

Tweedens moet die Cheetahs ook sonder Joe Pietersen en Francois Brummer in die Curriebeker klaarkom.

Lees ook: Franco Smit​h neem Cheetahs se leisels gou oor

Die losskakel Fred Zeilinga het ’n betroubare skopskoen en is ’n aanvallende speler wat kan gedy in die Vrystaat se spelpatroon. Foto: Gallo Images

Die ervare Pietersen was slegs vir die Super-reeks gekontrakteer en sal hom vir die Curriebeker glo by die Haaie aansluit.

Die Cheetahs het probeer om hom langer te behou, maar dit was nie geldelik moontlik nie.

Brummer is by Griekwas gekontrakteer en Smith sal hom nie vir Curriebeker-rugby kan oorweeg nie.

Zeilinga is egter die soort losskakel waarvan Smith hou – hy het ’n betroubare skopskoen, sy verdediging is stewig en is ’n goeie balverspreider.

Smith, wat in 2005 (tegniese raadgewer) en 2006 (agterlynafrigter) ’n groot invloed op die Vrystaters se welslae gehad het, sal deeglik bewus wees watter invloed Zeilinga se skopskoen op sy span se Curriebeker-vertoningslys kan hê.

In 2005, 2006 en 2007 het die Vrystaat se Curriebeker-sukses grootliks om Willem de Waal se skopskoen gedraai. Smith sal nou hoop Zeilinga kan ’n soortgelyke bydrae lewer.

Smith sal ook losskakels soos Niel Marais, Elgar Watts, Willie du Plessis en Pieter-Steyn de Wet kan oorweeg.

Selfs die heelagter Coenie van Wyk het gewys hy kan as ’n losskakel oorweeg word.

Daar word verneem dat die Cheetahs binnekort Zeilinga en ander aanwinste se name bekend sal maak. Bekendes het Smith en die Cheetahs glo die afgelope tyd self gekontak om hul rugby hier te kom speel.

Die Vrystaat se finale Curriebeker-groep word eers later bekend gemaak.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.