Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Francois Venter, nóg 4 bly Cheetahs
Die vleuel Raymond Rhule het besluit om sy loopbaan vir langer in ’n Cheetahs-trui voort te sit. Foto's: Gallo Images
Boom Prinsloo
Francois Venter
Carl Wegner
Tienie Burger

BLOEMFONTEIN. – ’n Blitsbok, twee voormalige Jong Bokkies én ’n speler wat onlangs Springbok-oefenkampe bygewoon het.

Hulle tel onder die nuutste spelers wie se dienste die Vrystaat behou – en daarmee beklemtoon het sy oog is beslis op die toekoms.

Die losvoorspeler Boom Prinsloo, vleuel Raymond Rhule, slot Carl Wegner en senter Francois Venter het almal hul Cheetahs-kontrakte hier verleng.

Die viertal sluit hulle aan by die belowende losvoorspeler Tienie Burger, wat dit ook onlangs gedoen het.

Lees ook:

Bismarck, Jan​nie en Willem groet Haaie

SA spann​e Supervrot met drieë, lakwerk

Afrigter Swy​s de Bruin bly ’n Leeu

Franco Smith, die Cheetahs se nuwe afrigter, het ’n duidelike boodskap uitgestuur dat hy hoofsaaklik op jong, talentvolle spelers gaan staatmaak.

Smith is onlangs vir vier jaar aangestel.

Prinsloo (26) is die oudste van bogenoemde groep en het nog hope rugby in sy loopbaan oor, terwyl Burger (21) die jongste is.

Prinsloo en Venter (24) was vanjaar ondanks die Cheetahs se gesukkel groot uitblinkers in die Super-reeks.

Hulle het elke week alles gegee en bo hul Super-spanmaats uitgetroon.

Prinsloo se agt Super-drieë in 2015, die meeste daarvan vanaf dryfmaalbewegings, is nie net die meeste deur ’n Cheetah nie, maar ook derde meeste in die reeks.

Dit is ook nie verrassend dat Venter, wat binne- én buitesenter kan speel, die laaste tyd die Bok-keurders se oog gevang het nie. Dit is juis sy veelsydigheid wat hom ’n Wêreldbeker-aanspraakmaker maak.

BC du Plessis, bogenoemde spelers se agent, het aan Volksblad bevestig die vyftal sal vir nog twee jaar – tot einde 2017 – vir die Cheetahs beskikbaar wees.

Wegner (24) se besluit volg nadat ’n ander slot, die Bok Lood de Jager, ook onlangs sy kontrak hier met ’n jaar verleng het.

De Jager het ook ’n Bok-kontrak van twee jaar geteken.

Wegner het vanjaar in De Jager (elmboog) se afwesigheid in die meeste Super-stryde saam met Francois Uys as slotpaar begin.

Rhule (22), wat al in 2012 saam met die Bokke getoer het, se handtekening is veral belangrik omdat daar nog onsekerheid oor Cornal Hendricks is.

Verskeie unies in Suid-Afrika stel glo in die Bok se dienste belang.

Rhule en die opwindende Sergeal Petersen (20) is twee vleuels wat nog lank in die Vrystaat-stadion kan uitdraf.

Die jong bloed wat die Cheetahs behou het, is veral goeie nuus nadat die heelagter Willie le Roux (Canon Eagles in Japan en dan Haaie), losskakel Joe Pietersen (Haaie) en flank Heinrich Brüssow (Docomo Red Hurricanes in Japan) besluit het om nie meer hier uit te draf nie.

Willie Britz (Cheetahs-losvoorspeler) sal gedurende vanjaar se Curriebeker-reeks vir die Japanse span NTT Shining Arcs uitdraf en terug wees vir 2016 se Super-reeks.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.