Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Grant langer vir GW beskikbaar

Dit gaan dalk nie klopdisselboom met Griekwas in die huidige Curriebeker-reeks nie, maar die Poubloues slaag ten minste daarin om met die oog op 2015 hul diepte aan te vul.

Die Griekwas-breier, Hawies Fourie, het gister bevestig dat die jong losskakel Dean Grant ’n kontrak onderteken het wat stipuleer dat hy volgende jaar sy rugby in die Diamantstad gaan speel.

Sy verbintenis is goeie nuus vir die Noord-Kapenaars omdat hy uitkoms bied in ’n posisie waar Griekwas se diepte dunner is as ’n supermodel se middellyf.

Dit is die afgelope ruk onderstreep toe die eerstekeuse-losskakel, Francois Brummer, beseer geraak het en Grant as sy adjudant ingetree het. Naas Grant was daar bra min opsies as besluitnemer en sou Fourie-hulle straks aan hul agterlyn moes gekarring het om die nr. 10-trui te vul.

“Ons is bly dat Dean besluit het om by ons aan te bly. Hy sal ons goeie diepte bied op losskakel. Hy is ’n aanvallende nr. 10 en sy balverspreiding is ook goed. Sy skoppe is die een afdeling van sy spel waar hy nog kan verbeter, maar ons werk hard daaraan met hom en hy gaan genoeg tyd daarin bestee in die afseisoen,” het Fourie gister gesê.

Grant se verbintenis is nie al goeie nuus wat die Poubloues gister ontvang het nie.

Die ander is dat Brummer sodanig van ’n dyspier-besering herstel het dat hy Saterdag in Pretoria in die Poubloues se laaste groepwedstryd van die reeks teen die Blou Bulle kan uitdraf. Die res van die beseerdes moet egter nog hul fiksheid bewys.

“Francois het gister saamgeoefen sonder enige ongemak en hy behoort reg te wees om die Bulle te pak. Ander beseerdes soos Janro van Niekerk (stut) moet nog hul fiksheid bewys, terwyl ons nou ook sweet oor Carel Greeff se beskikbaarheid.

“Hy het op die oefenveld sy enkel seergemaak en ons sal hom tot Vrydag gee om te herstel,” het Fourie gesê. 

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.