Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Griekwas gaps WP-duo
Senter, haker vort na Kimberley
Stephan Coetzee moet Adriaan Strauss se leemte help vul.
Michael van der Spuy sit sy loopbaan by Griekwas voort.

Griekwas en die Cheetahs se Superrugby-span het vroeë Kersgeskenke gekry, met die nuus dat die Westelike Provinsie se Michael van der Spuy (senter) en Stephan Coetzee (haker) volgende jaar vir die Poubloues gaan rugby speel.

Griekwas se hoofafrigter en ook hulpafrigter by die Cheetahs, Hawies Fourie, het aan Volksblad, ’n susterskoerant van Die Burger, bevestig dat hulle tot einde 2015 ’n kontrak met die Poubloues gesluit het om hul loopbane in Kimberley voort te sit.

Dit is nie net uitstekende nuus vir die Noord-Kapenaars nie, maar ook vir die Cheetahs in hul soeke na Super-glorie volgende seisoen.

Griekwas het reeds vir Ryno Barnes (haker, Vrystaat) en Howard Mnisi (senter, Goue Leeus) afgestaan, terwyl Doppies la Grange (senter) sy uittrede aangekondig het en dit onseker is of Janro van Niekerk (stut) weer gaan speel.

Met die verlies van Adriaan Strauss, wat na die Blou Bulle geskuif het, is die sentrale streekspan dun wat ervare hakers betref. Coetzee sal saam met Torsten van Jaarsveld, Barnes en Martin Bezuidenhout goud werd wees wat diepte in die posisie betref.

Dieselfde geld senter, waar Naka Drotské (Cheetahs-afrigter) kan kus en keur tussen Francois Venter, Johann Sadie, Rayno Benjamin, Joubert Engelbrecht, JP du Plessis, JW Jonker, Nico Lee, Jonathan Francke en Van der Spuy.

“Toe ons Howard Mnisi aan die Leeus afgestaan het, het ons probeer om Michael se dienste te bekom, maar ons was aanvanklik onsuksesvol,” het Fourie gesê.

“Nou is hy wel by ons en bied ons nie net ’n goeie opsie as senter nie, maar hy kan ook met sy linkervoet skop.

“In ’n agterlyn waar ons skoppers net regs skop, maak dit ’n groot verskil.

“Stephan se koms is net so welkom noudat ons Ryno Barnes aan die Cheetahs gegee het en Simon Westraadt na die Pumas toe is.”

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.