Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Rugby
Haaie gáán drieë druk – Gary Gold
Breintrust: Gary Gold, die Haaie se nuwe hoofafrigter, en sy kaptein, Bismarck du Plessis, gister in Durban. Foto: Gallo

Sy span gaan hierdie seisoen “opwindende rugby speel met die oog daarop om drieë te druk”.

Só het Gary Gold, die nuwe direkteur van rugby by die Haaie, Donderdag gesê toe hy sy span vir sy eerste Super-stryd, Saterdag teen die Cheetahs in Durban, aangekondig het.

“Ek glo die enigste manier om rugbywedstryde te wen, is om drieë te druk en om dit te doen moet jy besit behou.

“Ons ondersteuners verwag dit van ons om opwindende rugby te speel en die doellyn aan te val.”

Hoë intensiteit gaan dié seisoen die Haaie se wagwoord wees.

Hulle het veral ’n stewige agttal gekies, met die twee blondekoppe, Mouritz Botha en Renaldo Bothma, die nuwe gesigte.

Pieter-Steph du Toit keer ook terug, as Botha se slotmaat, met die voorry wat die bekende broers Du Plessis, Jannie en Bismarck, asook Tendai Mtawarira, insluit.

Met Waylon Murray terug by die Haaie ná ’n afwesigheid van etlike seisoene, vorm hy en Heimar Williams die senterpaar.

Dit sal gesien moet word hoe effektief hulle in die middelveld is en of hulle die geleenthede vir drieë kan skep vir hul haastige vleuels, Lwazi Mvovo en S’bura Sithole.

Deesdae kan jy jou nie net wil blindstaar teen die beginspan nie. ’n Stewige plaasvervanger is ’n vereiste vir uiteindelike sukses in hierdie reeks, wat ’n marathon en gewis nie ’n naelloop is nie.

Wat hul skietgoed op die plaasvervangersbank betref, lyk die Haaie vol plofkrag.

Dale Chadwick, Kyle Cooper, Jean Deysel, Fred Zeilinga en Odwa Ndungane het hope ervaring.

Die nuwe afrigter sê hy is nie iemand wat veranderinge tydens ’n wedstryd maak net omdat dit die norm is nie.

“As ek ’n skuif maak, voel ek daar moet logika aan verbonde wees,” sê hy.

Gold meen die voorbereiding vir die reeks was voldoende en die spangees is uitstekend.

Tog het hy gewaarsku dat die Cheetahs een van die gevaarlikste spanne is om teen te speel vanweë hul onvoorspelbaarheid.

“As dit hulle dag is, het hulle die vermoë om met enige span af te reken.

“Hulle het heelwat opwindende, jong spelers en is goed afgerig.

“Ons staal ons vir ’n fisieke stryd,” het Gold gesê.

Haaie

SP Marais, S’bura Sithole, Waylon Murray, Heimar Williams, Lwazi Mvovo, Patrick Lambie, Cobus Reinach, Tera Mtembu, Renaldo Bothma, Marcell Coetzee, Pieter-Steph du Toit, Mouritz Botha, Jannie du Plessis, Bismarck du Plessis (k), Tendai Mtawarira. 

PLAASVERVANGERS: Kyle Cooper, Dale Chadwick, Matt Stevens, Marco Wentzel, Jean Deysel, Conrad Hoffmann, Fred Zeilinga, Odwa Ndungane.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.